12 dae gelede
Dinge warm in dwelmsaak
KWAAI: Die Springbok-landdroshof is weens die saak propvol drama.  ~ Isaac Cloete

DIS nie vreemd as humeure tydens hofsittings opvlam nie.

Wanneer die vonke egter van die begin tot die einde spat, dan klink dit raar.

Dit is presies wat dié week in die landdroshof in Springbok gebeur het tydens drie vermeende dwelm-merts se borgtogaansoek.

Die drie Nigeriese verdagtes, Christian “Mystical” Onovho, Nduko Basil Eke en Joseph Chukwubuka, staan sedert 8 April tereg op klagte van dwelmhandel en -verspreiding.

Hulle is volgens die staat lede van ’n sindikaat van 11. Hulle mol reeds sedert 8 April vir bail.

Spanning

Sake het behoorlik warm geword tussen Basil “Jaguar” Kock, vir die staat, en adv. William Booth, hul regsverteenwoordiger.

Veral toe Kock die staat se hoofgetuie ondervra het, het die spanning hoog geloop.

Landdros Fiona Hess het haar hande vol gehad om die twee uitmekaar te hou.

Booth het verder olie op die vuur gegooi deur Kock se manier van kruisondervraging te betwyfel. Hy het telkemale opgespring en van Kock se punte betwis.

Booth sê toe vurig: “Die staatsaanklaer hou nie by die vorige beslissing van die hof nie. Ek het dit nog nooit in ’n hof beleef nie.

“Dit lyk asof my kollega (Kock) fokus verloor het.”

Kock was egter baie cool en bedaard en het geargumenteer dat hy net besig was om oor sekere punte duidelikheid te kry. Die staat en verdediging kon ook nie oor ’n nuwe hofdatum ooreenkom nie.

Die hof het toe vir ’n paar minute verdaag sodat Hess met haar seniors kon beraadslaag. Toe sy die hofsaal verlaat, was Booth en die hoofgetuie weer in mekaar se hare.

Stomgeslaan

Die twee het mekaar vertel wat hulle vorentoe van mekaar kan verwag. Hieroor was die hofgangers stomgeslaan.

Toe die hofsitting weer begin, het Booth 10 en 11 Julie voorgestel as ’n nuwe hofdatums. Hoewel die staat hieroor verskil het, het die hof sy voorstel aanvaar.

Ná die hofsitting het Booth aan Son vertel dat hy nie happy is met die gebeure binne die hof nie.

Ook was hy nie beïndruk met die tekort aan landdroste en beperkte hofsale nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters