4 maande gelede
Cyril wil Mkhwebane-verslag op hersiening neem
 President Cyril Ramaphosa. (Leon Sadiki, City Pre
Pres. Cyril Ramaphosa  ~ city press

PRES. Cyril Ramaphosa het Sondagaand aangekondig dat hy die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, se verslag op hersiening neem.

Dit kom nadat Mkhwebane Vrydag in 'n verslag bevind het dat Ramaphosa die uitvoerende gedragskode oortree het. 

Sy het ook bevind dat Ramaphosa doelbewus die parlement mislei het toe hy nie besonderhede oor 'n R500 000-skenking van Bosasa aan sy 2017-verkiesingsveldtog bekendgemaak het nie.

In haar verslag, wat ook gekyk het na skenkings vir die president se verkiesingsveldtog, sê sy groot bedrae geld is deur verskeie skenkers in 'n trustrekening (EFG2) oorbetaal in 'n rekening wat die CR17-veldtog gebruik het om skenkings vir Ramaphosa te kollekteer.

Vandaar is die geld versprei aan verskeie begunstigdes, insluitend Ramaphosa se stigting, die Ria Tenda-trust en Linked Enviromental Services.

"Uit die bewyse wat my kantoor ontvang het, is 'n bedrag van meer as R191 miljoen by die EFG2 Absa trust-rekening tussen Desember 2016 en 1 Januarie 2018 inbetaal en net meer as R190 miljoen is in dieselfde tydperk uit dié rekening oorgeplaas," sê Mkhwebane.

Bankrekords van die Ria Tenda-trustrekening wys dat meer as R388 miljoen tussen 1 Januarie 2017 en 20 Februarie 2019 by die rekening inbetaal is.

Amper dieselfde bedrag is tydens dieselfde tydperk uit die rekening oorgeplaas.

Volgens Mkhwebane is daar depositos van meer as R441 miljoen tussen 15 Desember 2016 en 13 Februarie 2019 in die Linked Environmental Services-rekening inbetaal.

Ramaphosa het Sondagaand by die Uniegeboue aan die media gesê Mkhwebane het die grondwet oortree met haar verslag

Hy sê haar verslag is fundamenteel gebrekkig, onakkuraat en buite die omvang van die openbare beskermer se magte.

"Dit is gepas dat die land se howe 'n finale en onpartydige bepaling in die saak maak," sê hy.

Ramaphosa sê hy neem kennis van die ernstige bevindinge teen hom, wat insluit dat hy die etiese gedragkode asook die grondwet oortree het.

"Alle Suid-Afrikaners moet bekommerd wees dat sulke ernstige bevindinge teen 'n staatshoof gemaak is en daarom is dit uiters belangrik dat die bevindinge op feite gebasseer moet word, 'n gesonde regsgrondslag moet hê en rasioneel moet wees," sê Ramaphosa.

"Ongelukkig val dié verslag, wat die openbare beskermer vrygestel het, kort aan dié belangrike vereistes."

Ramaphosa sê die regsaksies wat hy neem is nodig om die integriteit van die presidensie én die kantoor van die openbare beskermer te beskerm.

Hy sê die aksies moet nie gesien word as 'n aanval op Mkhwebane nie, maar is gegrond op die oortuiging dat nie hy of Mkhwebane bo die wet is nie. - The Citizen, News24

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters