Verlede maand
Cyril se plaasmoord-veroordeling 'regte stap'
Pieter Groenewald Foto: NETWERK24  ~ 

DIE Vryheidsfront Plus sê hulle wil verdere gesprekke met pres. Cyril Ramaphosa voer oor die beveiliging van plase in Suid-Afrika.

Dit kom nadat Ramaphosa tydens sy repliek op die debat van sy begrotingsrede plaasmoorde veroordeel het.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF+, sê hulle verwelkom Ramaphosa se veroordeling van plaasmoorde omdat dit belangrik vir die landbougemeenskap is om te hoor.

"Pres. Ramaphosa het gesê elke moord moet veroordeel word. Die VF+ stem daarmee saam aangesien elke moord in die land een te veel is," sê Groenewald in 'n verklaring.

"Die rede hoekom die VF+ by die staatsrede sowel as by die president se begrotingsrede vandeesweek gevra het dat hy plaasmoorde in die openbaar veroordeel, is omdat die land se boere gebuk gaan onder ? uitermate hoë moordsyfer.

"Die aanvalle en moorde op boere gaan boonop gepaard met groot wreedheid en marteling. Dit moet daarom onderskei word van gewone moord en misdaad."

Groenewald sê Ramaphosa het nog onlangs in New York, Amerika, gesê plaasboere word nie vermoor nie. 

"Die feit dat hy nou plaasmoorde in die openbaar veroordeel het, is 'n stap in die regte rigting."

Groenewald sê hy streef steeds daarna om plaasmoorde tot prioriteitsmisdade te laat verklaar.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters