Verlede jaar
Cyril praat padlangs oor grond
reg is reg: Pres. Cyril Ramaphosa sê hy is ernstig oor grondonteiening sonder vergoeding daarvoor.Foto: peter abrahams  ~ 

PRES. Cyril Ramaphosa het benadruk dat die regering ernstig is oor die onteiening van grond sonder vergoeding daarvoor.

Hy het egter bygevoeg dat dit nie op ’n “smash and grab”-manier gedoen sal word nie.

Ramaphosa het gister in die parlement gereageer op die debattering ná sy staatsrede, wat hy Vrydag gelewer het.

Die leier van die EFF, Julius Malema, DA, Mmusi Mai­mane en Cope, Mosioua Le­kota, het Ramaphosa Maandag oor grondverdelingskwessie gevra.

Gewelddadig

Ramaphosa sê ons is dit almal verskuldig aan ons voorvaders en kinders om die grond wat swart mense ontneem is, terug te gee.

Ramaphosa het gesê toe hy gisteroggend in Athlone ge­stap het vir oefening, het ’n inwoner, Cedric Alberts, aan hom vertel hoe hy gewelddadig uit Distrik Ses verskuif is.

Ramaphosa shet gesê: “Hy’t vertel dat hy tot vandag toe nog ’n huurder is, dat hy sy menswaardigheid ontneem is.

“Die onteiening van grond sonder vergoeding is een van die maniere waarop grondherverdeling oorweeg word om swart mense hul grond terug te gee.”

Die regering sal met opposisie­partye saamwerk om te verseker dat die land nie dieselfde foute maak as ander lande met sulke grondkwessies nie, sê Ramaphosa.

Verantwoordelikheid

“Ons sal dié kwessie hanteer nes ons ál die ander moeilike kwessies gehanteer het,” sê hy.

“Ons sal dit met verantwoordelikheid hanteer. Ons sal dit so hanteer dat dit nie ons ekonomie affekteer nie.”

Ramaphosa het ook ge­reageer op opposisiepartye se eise dat sekere kabinetsministers wat na bewering by staatskaping betrokke was, afgedank moet word.

Hy het gesê: “ ’n Aankondiging daaroor sal op die gepaste tyd gedoen word.”

Ramaphosa het bygevoeg dat korrupsie in die staat- en die privaat sektor beveg sal word, “want ons kan nie toelaat dat korrupsie ’n monopolie van die openbare sektor word nie”.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters