Verlede maand
Cyril moet 'n break vat, sê EFF
cyril ramaphosa
Cyril Ramaphosa en Busisiwe Mkhwebane  ~ 

DIE EFF het 'n beroep op pres. Cyril Ramaphosa gedoen om verlof te neem terwyl hy die openbare beskermer se bevindinge teen hom op hersiening neem.

Mbuyiseni Ndlozi, die EFF-woordvoerder, sê geen president moet in direkte konflik met 'n hoofstuk nege-instelling wees oor goed waaraan hy skuldig is nie.

Ramaphosa het Sondagaand in Pretoria aan die media gesê hy gaan adv. Busisiwe Mkhwebane se verslag op hersiening neem.

In haar verslag bevind Mkhwebane dat Ramaphosa doelbewus die parlament mislei het oor 'n R500 000 skenking van Bosasa in Oktober 2017 aan sy ANC-verkiesingsveldtog.

Die EFF sê 'n man wat op grond van deursigtigheid verkies is moes bekendgemaak het wie sy veldtog befonds het om president van die ANC te word en moes volgens wet sy foute aanvaar het dat hy nie al hierdie geld verklaar het nie.

"Veral omdat hy nie ontken het dat geld in sy naam en vir hom ingesamel is nie," sê Ndlozi.

Mkhwebane stel voor in haar regstellende aksie dat Ramaphosa alle skenkings moet verklaar wat sy veldtog ontvang het.

Sy wil ook hê die speaker van die parlament, Thandi Modise, moet die saak na die etiekkommitee verwys en dat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en die polisie bewerings van geldwassery moet ondersoek.

Die EFF het 'n beroep op die NVG, die Valke en die parlement gedoen om die regstellende aksie te implementeer. - EWN

Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters