3 maande gelede
Crèche word gesluit
mishandeling: Dié vrou slaan na bewering kids in ’n crèche. Sy loop nou hof daaroor.Foto: NEWS24  ~ 

CARLETONVILLE. – Die crèche waar 'n vrou afgeneem is terwyl sy kinders aanrand, gaan binnekort gesluit word.

Nandi Mayathula Khoza, LUR vir maatskaplike ontwikkeling in Gauteng, het Donderdag dié besluit geneem.

Intusssen verskyn die vrou, wat as Neli Senwamadi (40) geïdentifiseer is, volgende maand weer in die Oberholzer-landdroshof.

Sy is op 26 Maart gearresteer nadat ’n video,­ waarin sy kinders by die Ninnie's Neurons-kleuterskool na bewering skop en slaan, viral gegaan het.

’n Polisiewoordvoerder, brig. Mathapelo Peters­, sê die vrou wat by die crèche werk, het die eerste keer op 28 Maart in die hof verskyn.

Die hof het borgtog van R3 000 toegestaan.

Klappe

Die video waarin die vrou die kinders na bewering aanrand, het eers Woensdag uitgekom.

Benewens dat die kinders geskop en geslaan word, word een kleuter ook ’n paar klappe gegee.

Die prinsipaal het aan Eyewitness News gesê die video’s is ’n jaar gelede al gemaak.

Die skool het die saak toe by die Kinderbeskermingsdiens aangemeld.

Sy kom weer op 7 Mei voor. - Netwerk24

Lewer kommentaar op hierdie artikel
3 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters