5 maande gelede
Cosatu steun opheffing van drankverbod
Cosatu steun ook nou die opheffing van die drankverbod.  ~ Getty Images

DIE vakbondfederasie Cosatu het sy steun toegesê aan die beroep dat die drankverbod opgehef word.

Cosatu doen dit op die voorwaarde dat regulasies geïmplementeer sal word om verantwoordelike drankgebruik te verseker.

Hulle het Dinsdag gesê daar is met drankvervaardigers vergader en dat hulle gevra is om met ’n plan vorendag te kom wat die probleme van gesondheidsowerhede en werkers aanspreek.

Die plan sal na verwagting vandeesweek voor die Nasionale Raad vir Ekonomiese Ontwikkeling en Arbeid ter tafel gelê word.

Sizwe Pamla, Cosatu-woordvoerder, sê die drankbedryf moet die steun van die departement van gesondheid en ander maatskaplike vennote kry.

“Ons het gesê sodra daar ’n werkbare plan is en dit word deur almal onderskryf, dan moet ons natuurlik heropen, want ons wil werke red soos ons lewens wil red."

Pamla sê hulle het ook die sigaretbedryf versoek om met oplossings vorendag te kom sodat die verbod op die verkoop van tabakprodukte opgehef kan word.

“As sigaretvervaardigers en -verkopers met 'n argument vorendag kan kom wat alle rolspelers, insluitend die departement van gesondheid, kan oortuig, dan is daar geen rede vir die verbod om te bly nie," sê hy.

Pamla sê hulle ondersteun die beskerming van lewens, maar dat lewensbestane ook geprioritiseer moet word. - EWN


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters