12 dae gelede
Cele sê lede moet gebalanseerd optree
Bheki Cele
Bheki Cele  ~ verskaf

DIE minister van polisie, Bheki Cele, beskryf die polisie se optrede teenoor diegene wat die bepalings van die Rampbestuurwet oortree as “ongebalanseerd”.  

Cele het verwys na die waterkanon wat in Januarie in Bellville op Sassa-begunstigdes gebruik is nadat hulle gevra is om ’n groter afstand tussen mekaar te handhaaf. Hy’t toegegee die polisie het die voorval verkeerd hanteer. 

“Ons is twee keer Wes-Kaap toe om te sê die polisie moet verduidelik hoekom hulle na Bellville sal gaan en op die weerlose, bejaarde, siek, jong, gestremde, honger en desperate mense die metode sal toepas wat jy op betogers gebruik. Daardie mense het nie betoog nie.” 

Hy’t ’n verslag oor die gebeure aangevra, berig News24.  

Cele het ook die polisie se reaksie gekritiseer op betogers wat in Muizenberg die grendeltyd-regulasies oortree en aangedring het dat die strande heropen.  

“Die polisie het na mense gekyk wat die wet oortree en gesê het hulle sal nie die wet respekteer nie. Ons het die saak aangeroer en stappe word gedoen.” 

In Februarie het ’n man wat in Vishoek betoog het teen masker dra twee joernaliste aangeval. Monique Mortlock van eNCA is aangeval terwyl sy ’n onderhoud probeer voer het met die organiseerder van die betoging teen maskers. Die man het haar masker afgeruk.  

Athi Mtongana van Newzroom Afrika is ook aangeval.  

“Ons het die na twee polisiestasies (in daardie jurisdiksies) gegaan. Daai ouens is niks anders as misdadigers nie. Een van die joernaliste het by die Vishoek-polisiestasie ’n saak gemaak. Hulle is by die polisiestasie mishandel. Ek is baie bly stappe is gedoen teen die kaptein wat die joernalis mishandel het. Dieselfde joernalis is toe na ’n ander polisiestasie toe, waar die saak aangemeld is. Ons moet hierdie ongebalanseerde optrede identifiseer. Waar hulle nie goed gevaar het nie, is stappe gedoen.” 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters