9 dae gelede
Bushiri's gee hulself oor
BAIE VRAE: Daar is steeds geen duidelikheid oor hoe Shepherd en Mary Bushiri die land verlaat het nie.  ~ Daily Sun

DIE omstrede godsman Shepherd Bushiri en sy vrou, Mary, het hulself aan die owerhede in Malawi oorgegee, berig die nuusdiens eNCA. 

Die Bushiri’s, wat die Enlightened Christian Gathering Church in Suid-Afrika bedryf, word verdink van bedrog en geldwassery van meer as R100 miljoen. Hulle was uit op borgtog van R100 000 elk toe hulle verdwyn en oor die afgelope naweek in Malawi antwoord gegee het.

Die polisie het Woensdagoggend in 'n verklaring gesê 'n lasbrief is uitgereik vir die Bushiri's en dat hul saak tot 7 Desember uitgestel is vir borgtog om formeel ingetrek te word.

Aaron Motsoaledi, minister van binnelandse sake­, het die parlement se portefeuljekomitee oor binnelandse sake Dinsdag meegedeel dat die Bushiri's elk vyf paspoorte gehad het.

Hul permanente verblyfreg-dokumentasie in Suid-Afrika is volgens Motsoaledi ook onwettig verkry.

Motsoaledi sê Mary Bu­shiri het die land in 1997 ingekom en aangevoer dat sy permanente verblyfreg het. Volgens die minister kan dit egter nie waar wees nie, want daar bestaan nie eens rekords oor wanneer sy die land in 1997 ingekom het nie.

Volgens Motsoaledi het Shepherd Bushiri die land vir die eerste keer in 2013 binnegekom.

“Hy (Bushiri) het verskillende besighede hier geregistreer en moes vir ’n besigheidsvisum aansoek doen, wat hy versuim het om te doen. Dit beteken dat hy sy besighede onwettig hier geopen het,” het die minister verduidelik.

Gelieg

Motsoaledi sê die Bushiri’s het in 2016 aansoek gedoen vir permanente verblyfreg, wat dieselfde jaar toegeken is.

Dít nadat die egpaar onder eed gelieg het dat hulle die land in 2015 vir die eerste keer binnegekom het.

Dis om hierdie redes dat hulle in hofstukke aangevoer het dat die Bushiri’s nie bail moet kry nie, het die minister verduidelik.




Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters