Verlede maand
Boer en seun vas ná skietdood van 2 werksoekers
’n Boer en sy seun is in hegtenis geneem nadat twee werksoekers op hul plaas Mpumalanga doodgeskiet is.  ~ 

’N BOER van Mpumalanga en sy seun is in hegtenis geneem nadat hulle na bewering twee werksoekers doodgeskiet het en nog een beseer het.

Dit volg nadat ’n groep mense na bewering op die plaas werk kom soek en ’n rusie uitgebreek het.

News24 berig die pa en seun is lede van ’n groep van vier mense wie se ouderdom van 25 tot 53 jaar wissel, wat Maandag in die Piet Retief-landdroshof sal verskyn.

Die groep staan tereg op twee klagte van moord en nog ’n klag van aanranding met die opset om ernstig te beseer.

Die voorval het Vrydag op ’n plaas by Dirkiesdorp gebeur.

Kol. Donald Mdhluli, ’n polisiewoordvoerder, sê die hofverskyning spruit uit ’n voorval waarin ’n groep mans na die boer gegaan het om werk te soek as seisoenwerkers.

Die boer het na bewering aan die mans gesê dat hulle nie op sy plaas welkom is nie.

Volgens Mdhluli het die mans besluit om te loop toe hulle later besef een van hulle is agtergelaat.

Hy voeg by die mans het teruggegaan net om uit te vind die verdagtes hou hul makker op die plaas aan.

Blykbaar het hulle gevra dat die boer hom moet laat gaan, waarna die rusie uitgebreek het.

Twee mans is op die toneel doodgeskiet en drie ander mans het ernstige beserings opgedoen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters