5 maande gelede
Betogers 'vier weke sonder water'
Engonyameni, Umlazi
Inwoners sper paaie af.  ~ Musa Binda, GroundUp

TIEN skole in Umlazi, suid van Durban, is ontwrig toe inwoners die strate ingevaar het omdat hulle vier weke lank al sonder water sit.

Inwoners het Maandag paaie in die omgewing van Engonyameni met klippe en bome afgesper.

Nkanyiso Msomi, een van die betogers, sê die skole is nie hulle teiken nie, maar dat hulle nie gaan ophou totdat die eThekwini-munisipaliteit hul water aansit nie. 

Msomi sê hy hoor amptenare van die munisipaliteit sny hul watertoevoer sodat water in tenke aangery moet word.

"Ons hoor die amptenare trek voordeel uit die watertenke," sê hy.

Volgens hom kom die inligting glo van mense binne die munisipaliteit.

Twee mense het aan GroundUp gesê hulle het weens die probleme maar watertenke aangeskaf.

Hulle betaal glo R200 aan die mense wat die water aanry om die tenke by hul huise vol te maak.

Msomi sê die munisipaliteit het 'n paar dae gelede gesê die reservoir is leeg, maar dat hulle uitgevind het dit is nie waar nie.

Msawakhe Mayisela, woordvoerder van die eThekwini-munisipaliteit, sê hullle gaan 'n span uitstuur na die area om met die inwoners te praat en die saak te ondersoek.

Mayisela het bygevoeg dat die munisipaliteit besig is met 'n multimiljoen rand-projek terwyl dit alles in sy mag doen om seker te maak inwoners het toegang tot skoon water deur watertenke. – News24






Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters