12 dae gelede
Bekommernis oor verkragtings toegeneem het
Misdaadsyfers: Meer verkragtings is aangemeld.
Misdaadsyfers: Meer verkragtings is aangemeld.  ~ Verskaf

HLENGIWE Mkhize, adjunkminister vir vroue, jeug en mense met gestremdhede, is besorg oor die toename in die getal verkragtings in die land.  

Sy het gereageer op die misdaadsyfers wat die minister van polisie, Bheki Cele, Vrydag bekend gemaak het vir die tydperk van 1 Oktober tot einde Desember 2020. 

Luidens die kwartaallikse misdaadstatistieke het die getal moorde en verkragtings in die laaste drie maande van 2020 toegeneem. Meer as 12000 mense is in dié tyd verkrag. 

Die getal seksuele misdrywe het in die algemeen met 5% toegeneem tot 12 218. 

Amanda Tshemese, Mkhize se woordvoerder, sê: “Dis baie kommerwekkend dat 181 meer verkragtings aangemeld is. Dis duidelik baie moet nog gedoen word om geslagsgeweld en vrouemoord te bekamp. Ons kyk na die onsedelike aanranding en moord op vroue, veral in die vier vernaamste provinsies: Gauteng, Wes-Kaap, Oos-Kaap en KwaZulu-Natal.” 

SABC News berig die DA het vroeër ’n beroep gedoen dat Cele en die nasionale polisiekommissaris, Khehla Sitole, dringend voor die parlement verskyn om te sê hoekom hulle Suid-Afrikaners nie veilig hou nie. 

Okkie Terblanche, DA-skaduminister van polisie, sê die getal plaasmoorde en -aanvalle het ook toegeneem. 

“Die polisie verloor die stryd teen misdaad. Landelike veiligheid bly ’n kommer. Altesaam 19 mense is dood in 18 voorvalle van moord op plase en kleinhoewe. Verlede jaar het die getal plaasmoorde tot 63 toegeneem. Die DA doen ’n beroep om die SAPD om onmiddellik sy plan vir landelike veiligheid toe te pas. Geslagsgeweld teister Suid-Afrikaners ook. Suid-Afrika bly ’n gewelddadige gemeenskap en vroue en kinders is die weerloosste.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters