8 dae gelede
Baba oorleef bloedbad
Vyf mense is die naweek in die Vrystaat vermoor.  ~ Foto ter illustrasie

'N ELF maande oue baba is een van vyf kinders wat die naweek 'n bloedbad in die Vrystaat oorleef het.

Die voorval, waarin vyf mense vermoor is, het Sondag in die vroeë oggendure in Namahadi in QwaQwa gebeur.

Kol. Thandi Mbambo, 'n polisiewoordvoerder, sê aan TimesLive die polisie is om 03:00 na een van twee tonele ontbied.

Met hul aankoms by 'n huis het hulle die liggaam van Moliehi Thoabala (38) met 'n skietwond aan die maag aangetref. Haar man Safolo Mofokeng (36) se verkoolde lyk is ook in die huis gevind.

Die polisie is toe na 'n tweede huis waar die verbrande liggame van Relebohile Lemeko (48) en haar twee kinders Masabata Lemeko (25) en Tatolo Lemeko (22) gevind is.

"Lemeko se 11 maande oue kleinseun is na bewering met 'n knopkierrie op die neus geslaan en is in die hospitaal opgeneem," sê Mbambo.

Vier ander kinders het ook die aanval oorleef.

Die motief vir die moorde is onbekend. 'n Klag van moord, brandstigting en poging tot moord word ondersoek.

Mbambo het Donderdag in 'n verklaring gesê 'n 21-jarige man is in verband met die moorde gearresteer.

Die verdagte sal Vrydag in die Phuthaditjhaba-landdroshof verskyn.

Genl. maj. Solly Lesia, waarnemende provinsiale polisiekommissaris, sê hulle verwag om binnekort nog arrestasies te maak.


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters