15 dae gelede
ANC-komitee steun ontbinding van Jeugliga
Collen Maine is in 2015 as ANC Jeugliga-president verkies.  ~ daily sun

DIE ANC se nasionale werkerskomitee (NWK) ondersteun 'n versoek om die party se Jeugliga te ontbind.

Lede van die Jeugliga het gevra vir die verwydering van leiers wat in 2015 by hul 25ste nasionale konferensie verkies is.

Die lede het hul moederliggaam gevra om die ou leiers te vervang met 'n nasionale taakspan wat hulle tot die 26ste konferensie kan lei.

Collen Maine is in 2015 tot president verkies met Desmond Moela as sy adjunk, Njabulo Nzuza as sekretaris-generaal, Thandi Moraka die adjunk-sekretaris-generaal en Reggie Nkabinde as die tesourier-generaal.

Hul termyn het laas jaar verstryk.

Van die lede beskuldig die leiers dat hulle die Jeugliga gebruik om hul persoonlike politieke loopbane te bevorder.

Vier van die vyf leiers dien tans in die parlement of die provinsiale wetgewer. Nzuza is onlangs aangestel as die adjunk-minister van binnelandse sake.

'n NWK-amptenaar het aan News24 gesê die besluit om die Jeugliga te ontbind is weens sy versuim om 'n konferensie in 2018 te roep.

Daar was drie pogings om dit te doen, maar logistieke- en finansiële probleme het elke keer die skuld vir vertragings gekry.

"Dis 'n redelike en geldige versoek om vir 'n ontbinding te vra," het een lid van die ANC Jeugliga se uitvoerende komitee anoniem aan News24 gesê.

Hy sê hy ondersteun die besluit en dat dit tyd is om die Jeugliga te revive en te verseker dat dit relevant en geloofwaardig word. - News24


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters