10 dae gelede
AfriForum wil hof toe oor entstowwe
Ernst Roets  ~ Elizabeth Sejake

DIE regering het nie 'n benul hoe om die Covid-19-krisis te hanteer nie, sê AfriForum.

AfriForum sê in 'n verklaring mediese oplossings moet dringend gevind word eerder as om gepoogde politieke oplossings op die samelewing af te dwing.

"AfriForum en Solidariteit se saak teen die regering oor die vooropgestelde monopolie op die aankoop en verspreiding van Covid-19-entstowwe is nou van kardinale belang," lui die verklaring.

"Dié organisasies het reeds hul regspan opdrag gegee om ’n saak hieroor voor te berei sodat wanbestuur en korrupsie nie veroorsaak dat mense, wat die entstof wil ontvang, verhoed word om dit te kry nie."

Ernst Roets, hoof van beleid en aksie by AfriForum, meen dit is nodig om op ’n verantwoordelike manier op die pandemie te reageer, maar sê die regering se misbruik van die virus om burgers se mees basiese vryhede te beperk, is nie regverdigbaar nie.

“Die president maak dit duidelik dat die regering geen benul het hoe om op die virus te reageer nie. Nou word arbitrêre regulasies op die samelewing afgedwing en oortreders hiervan in hegtenis geneem, terwyl die geld wat vir die bestryding van die virus geoormerk is, in korrupte bedrywighede gesteel word.

"Dit alles terwyl daar geen bewyse is dat hierdie arbitrêre regulasies die verspreiding van die virus daadwerklik beperk nie. Daar is wel bewyse dat die ekonomiese inperking tot reusewerksverliese en hongersnood lei.”


Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters