11 dae gelede
Aanvalle op regbank ‘sleg vir demokrasie’
President Cyril Ramaphosa at SONA 2020. (Twitter,
Pres. Cyril Ramaphosa  ~ Twitter / PresidencyZA

ONS moet bekommerd wees wanneer prominente persone uitlatings maak wat minagting wys vir die basiese beginsels van ons grondwet en instellings wat daar is om demokrasie te verdedig.

So het pres. Cyril Ramaphosa Maandag in sy weeklikse nuusbrief gesê.

Ramaphosa sê wat veral kommerwekkend is, is die onlangse uitlatings wat na die regbank gemik is waarin sommige regters, sonder bewyse, beskuldig word dat hulle die belange van ander nastreef eerder as dié van die regstelsel. 

‘‘Regters is van politieke agendas beskuldig en sommige is beskuldig dat hulle omkoopgeld aanvaar,’’ sê Ramaphosa.

‘‘Sulke bewerings is diep onstellend vir twee redes. Eerstens, as sulke bewerings waar is, sal dit beteken daar is sommige op die regbank wat nie die waardes en beginsels onderhou waarmee hulle toevertrou is nie.

‘‘Die bewerings wat teen die regbank gemaak is, is onstellend vir nog 'n rede. Sonder bewyse om die bewerings te ondersteun en tensy dit na die relevante owerhede verwys word, ondermyn sulke bewerings net die regbank en die belangrike funksie wat dit in ons demokrasie verrig.’’

Ramaphosa sê die grondwet maak wel voorsiening vir die nasionale vergadering om regters te verwyder wat hulself skuldig maak aan growwe nalatigheid.

Hy moedig dus mense aan, wat bewyse het van regters se kwaaddoenery, om gebruik te maak van middele wat deur die grondwet verskaf word om seker te maak behoorlike stappe word geneem.

Ramaphosa waarsku ook dat sulke bewerings tot die aftakeling van vertroue in die regbank en grondwetlike orde lei.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters