5 jaar gelede
Kees jol met jukebox
pla: Layton Vaaltyn word deur ’n bobbejaan lastig geval. Foto: MARYNA BARNARD

’N MAN van Krakeel leef steeds in vrees vir ’n pratende bobbejaan wat hom en sy vriende snags terroriseer.

Layton Vaaltyn sê hy kon Nuwejaarsdag nie ’n oog toemaak nie. Vaaltyn het laas by Son gekla oor dié bobbejaan, wat maak of Krakeel aan hom behoort en die honde vuurwarm skop en slaan.

Vaaltyn sê die bobbejaan se nuwe streek is nou om al die honde bymekaar te jaag. Hy sê hy het een aand saam vriende gesit en gesels.

Hulle hoor toe hoe die honde tjank en musiek wat kliphard speel.

Hy sê toe hulle om die draai gaan om te kyk, toe staan die bobbejaan met ’n jukebox in die hand.

Vaaltyn sê hy is bang omdat die bobbejaan hom laas amper bewusteloos geslaan het.

Hy sê die bobbejaan speel die lekkerste kwaito op die jukebox, maar dit was nie die ergste nie.

Toe hulle weer sien toe dans die honde, spring in die lug en skud hul lywe. Hy sê hulle almal was houtnugter en het net begin lag vir die nonsens.

Toe die bobbejaan omkyk en sien hy word dopgehou, het hy volgens Vaaltyn gesê: “Is dit al weer jy wat jou so sterk hou, jou donner?”

Vaaltyn sê hy het gehardloop om by die huis uit te kom omdat hy bang was die bobbejaan slaan hom weer.

Hy sê miskien het iemand die bobbejaan leer praat en hy wonder waar die bobbejaan die jukebox kry.

Volgens hom is die honde soggens lam gedans.

Hy sê iemand van natuurbewaring of ’n sirkus moet die bobbejaan kom haal, want hy het seker weggeloop.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters