13 dae gelede
Zille oorweeg appeal teen twiet-uitspraak
Staan vas: Helen Zille kan moontlik teen die uitspraak teen haar appelleer.  ~ Peter Abrahams

DAAR is ’n groot kans dat die voorsitter van die DA se federale uitvoerende raad, Helen Zille, teen ’n uitspraak deur die Gautengse hooggeregshof kan appelleer.

Haar aansoek om ’n verslag van die openbare beskermer, adv. Busi­siwe Mkhwebane, te laat hersien en tersyde te stel is Dinsdag van die hand gewys.

Mkhwebane het in Junie 2018 bevind Zille het die etiese kode vir lede van die provinsiale parlement oortree met haar omstrede twiets rakende kolonialisme.

Zille het onder meer getwiet: “For those claiming legacy of colonialism was ONLY­ negative, think of our independent judiciary, transport, infrastructure, piped water­, etc.”

Sy was nog die Wes-Kaapse premier toe sy dié uitlatings gemaak het. Dit is wyd veroordeel.

Mkhwebane se verslag het gekom ná ’n klag deur die destydse ANC-leier in die provinsiale parlement, Khaya Magaxa. Hy het ’n soortgelyke klag by die provinsiale parlement se etiese komitee gelê.

Regskoste

Regter Malebo Habedi het Dinsdag Zille se aansoek met koste verwerp.

Zille het gister alle navrae na haar lawyer, Fiona Stewart, verwys toe Son haar om kommentaar genader het.

Stewart sê: “Daar is ’n sterk moontlikheid dat ons teen die uitspraak sal appelleer.

“Ek moet nog eers met die advokaat daaroor praat.”

Cameron Dugmore, die ANC-leier in die Wes-Kaapse parlement, meen Zille moet boet vir die twiets.

Dugmore sê die DA en Zille het te lank vertragingstaktiek ingespan oor die omstrede voorval. Hy meen Zille en die party moet om verskoning vra daaroor.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters