26 dae gelede
‘Wys jou face!’
wreed: Jesse Hess is verkrag en vermoor.  ~ 

HOFGANGERS het Vrydag David van Boven se bloed gesoek toe hy vir die eerste keer in die Wynberg Landdroshof verskyn het.

Hy het op klagte van verkragting, roof en poging tot moord verskyn.

Van Boven (31) is Donderdag in Struisbaai gearresteer nadat Son berig het cops is op sy spoor vir die verkragting van ’n meisie (16) van Hanover Park.

Hy word ook verbind met die verkragting van en moord op sy niggie Jesse Hess (19) en haar oupa Chris Lategan.

Dié twee se lyke is meer as twee maande gelede in hulle flat naby die stasie in Parow gevind.

Cops kon hom nie vroeër arresteer nie oor hulle nie genoegsame bewyse teen hom gehad het nie.

’n Bron na aan die ondersoek het aan Son bevestig dat nog ’n verdagte in die Hess-saak ondersoek word.

Die ingeligte sê hulle het inligting ontvang, maar dit moet nog eers bevestig word.

Toe Van Boven Vrydag deur twee cops uit die gat na die beskuldigdebank begelei is, was hy duidelik bewus van die skare in die hofgalery.

Hy het ’n swart-grys hoodie aangehad wat hy oor sy kop getrek het.

Toe Van Boven in die beskuldigde­bank gestaan het, was dit tasbaar hoe die bloed van die hofgangers kook.

Hulle het geskreeu dat hy sy hoodie moet afhaal en sy “gevreet” moet wys.

Van die hofgangers het geskreeu: “Djy! Djou n***!

“Gee die rapist vir ons lat ons hom kan vrekmaak.

“Jy rape en maak mos ons kinders dood.”

Die staat het gou te kenne gegee dat hy enige aansoek om borgtog sal teenstaan omdat dit ’n skedule 6-oortreding is.

Adv. Emily van Wyk, die senior aanklaer, sê Van Boven het reeds vorige veroordelings van verkragting en dwelmverwante sake.

Hy is tans uit op parool vir die verkragting van sy neef se vrou.

Van Wyk sê Van Boven was reeds uit op parool toe die onlangse misdade gepleeg is.

“Die slagoffers in die saak het hom geïdentifiseer. Hy is welbekend aan die slag­offers.”

Van Wyk het aangevoer die ondersoek en uitslae van die DNS-toetse in die Hanover Park-saak is nog uitstaande.

Dié saak is tot 14 Februarie 2020 uitgestel vir verdere ondersoek.

Van Boven se Legal Aid-prokureur het aan die hof bekend gemaak dat sy kliënt sy borgaansoek gaan laat vaar.

Oortredings

Hy het bygevoeg dat Van Boven moontlik van nóg oortredings aangekla gaan word.

’n Bron na aan die ondersoek het aan Son bevestig dat Van Boven wel aangekla is vir die verkragting van en moord op sy niggie Jesse Hess en vir die moord op haar oupa.

Hy sal Woensdag weer in die Bellville Landdroshof vir die Jesse-saak verskyn. 

vat so! Verskillende organisasies teen vrouegeweld het dié boodskap vir David van Boven gehad.
ondersteun: Lede van die Blomvlei Walking Bus het geloop tot by die Wynberg Landdroshof om hulle stem dik te maak. Foto’s: Peter Abrahams
Wynberg: Lt.kol. Adrian Pretorius (regs), die ondersoekbeampte, het ’n deurbraak in die Jesse Hess-saak gemaak.
wreed: Jesse Hess is verkrag en vermoor.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters