13 dae gelede
WKOD sue onnie
DEBAKEL: Glen Snyman van die Grootkraal Primêre Skool naby Oudtshoorn is van bedrog aangekla.  ~ Foto Verskaf

DIE DA-beheerde Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) sit met ’n ras-tameletjie.

Die provinsiale minister van onderwys, Debbie Schäfer, doen nou damage control hieroor.

Dít volg nadat die WKOD ’n bruin onnie van Oudtshoorn, Glen Snyman, van bedrog aangekla het.

Dis omdat hy op sy CV gesê het hy is “African” in plaas van sy amptelike bruin identiteit.

Die uitgesproke Snyman is die stigter van People Against Race Classification (Parc).

Parc veg sedert 2010 teen die identifikasie van mense op grond van hul ras en die regering se gebruik van die woorde “swart”, “bruin”, “Indiër” en “wit” op ampte­like dokumente, onder meer werksaansoekvorms.

Snyman, ’n onnie by die Grootkraal Primêre Skool naby Oudtshoorn, het hom na bewering in 2017 as African geïdentifiseer toe hy aansoek gedoen het vir ’n pos by die Fezekile Sekondêre Skool.

Hy het nie daardie pos gekry nie.

Hy is egter laas maand, byna drie jaar later, van bedrog aangekla en gevra om in ’n dissiplinêre verhoor van die WKOD te verskyn.

Die verhoor is nog hangend.

Schäfer sê gister in ’n persverklaring sy het gevra vir alle inligting in Snyman se saak.

Volgens haar het sy gister vir die eerste keer van Snyman se saak gehoor.

Haat

Schäfer sê een van apartheid se grootse euwels was om mense volgens hul sogenaamde ras te identifiseer.

Sy voeg by: “So, ek is geskok dat my departement iemand van bedrog aankla omdat hy besluit het hoe hy homself wil identifiseer.

“As dit die geval is, is dit iets wat ek haat.

“En ons sal nie die viktimisering duld van mense wat nie op ’n kunsmatige en arbitrêre wyse voorgeskryf wil word hoe hulle hulself moet identifiseer nie.

“Ek het dringend gevra vir ál die inligting van die saak, want dit lyk voorlopig asof dit nie in lyn is met waarvoor ons administrasie staan nie.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters