3 dae gelede
WKOD gee palie ’n nare uitslag
VEGTER: Die onderwysdepartement het Wesley Neumann skuldig bevind.  ~ Foto Verskaf

DIE skoolhoof van die Hoërskool Heathfield is in ’n dissiplinêre verhoor van die Wes-Kaapse onderwysdepartement skuldig bevind nadat hy laas jaar die skool onwettig toegemaak het.

Die WKOD het ses klagte van wangedrag teen Wesley Neumann ondersoek.

Neumann wou nie hê leerders en onnies moes tydens die lockdown in Junie laas jaar skool toe kom nie.

Hy is op ál ses klagte skuldig bevind. In die uitspraak word daar gesê Neumann wou nie verantwoordelikheid aanvaar nie.

Luidens die verslag het Neumann aangevoer die skool se beheerraad het die besluit geneem om die skool te sluit.

Neumann het verder in die verslag gesê hy het as hoof nie die mag om die beheerraad te overrule nie, tensy die beheerraad ’n uiters swak besluit neem.

Talle protesoptogte is gehou om Neumann te steun. Dit was ook teen die onderwysdepartement gemik nadat­ hy aangekla is.

Luidens die verslag het Neumann hom ook nie gedistansieer van die protesoptogte nie.

Kinders moes op 1 Junie 2020 terug gaan skool toe, maar hulle het nie.

Neumann is daarna deur die onderwysdepartement aangekla.

Allan Liebenberg, woordvoerder van die Executive Action Group wat Neumann ondersteun, sê in ’n verklaring hulle is nie verbaas oor die uitspraak nie.

“Van die begin af was daar geen meriete nie.

“Die saak het niks te make met die opvoedingsproses, protokols en arbeidsverhoudings nie.

“Ons is oortuig dis die aanmatiging van mnr. Brian Schreuder, wat tóé hoof van onderwys was, se rigiede, burokratiese optrede.

“Hy kon ook nie met die hoof van ’n township-skool kommunikeer nie.”

Khalid Sayed, die ANC se provinsiale woordvoerder oor onderwys, sê die WKOD duld dit nie as sommige skoolhoofde van die liggaam verskil nie – maar tog sal die WKOD ander beskerm.

Skokkend

“Baie skoolhoofde, veral wit mense, word deur ernstige oortredings in die gesig gestaar.

“Dis skokkend dat dié kangaroehof Neumann skuldig bevind het.

“Daar was geen objektiwiteit in die proses nie. Die doel was om mnr. Neumann skuldig te bevind.

“Sy oortreding was nie korrupsie of ander misdade nie. Hy het net vir die gesondheid van sy personeel en leerlinge geveg.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters