Verlede maand
WK-skole gaan gebuk onder vandalisme
Debbie Schafer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys.  ~ foto24

DIE SKOOL is veronderstel om 'n plek te wees waar leerders gaan om te leer, maar statistieke wys dat dit 'n hot spot vir kriminele geword het.

Só sê Debbie Schäfer, Wes-Kaapse LUR vir onderwys.

Schäfer sê die statistieke van inbraak en vandalisme oor die afgelope vakansie "is skokkend en teleurstellend".

42 skole is oor 'n tydperk van 24 dae (tussen 14 Junie en 9 Julie) erg besteel en gevandaliseer in vergelyking met 27 skole verlede jaar.

"Dis verskriklik," sê Schäfer.

"Ek het statistieke aangevra van die eerste helfte van die 2018- en 2019-skooljaar sowel as vir die hele 2018 skooljaar. Ek was baie teleurgesteld toe ek die syfers ontvang."

Vanaf Januarie 2018 tot Junie 2018 is 395 skole ingebreek en gevandaliseer. Vir die hele 2018 het 768 skole deurgeloop.

In die eerste ses maande van 2019 het 471 skole ('n gemiddelde van twee skole per dag) gebuk gegaan onder inbrake en vandalisme.

Schäfer sê die voorvalle is nie net beperk tot die metro nie.

"'n Skool in George het byvoorbeeld 10 voorvalle van inbraak en vandalisme vanjaar gerapporteer. Ander skole in Paarl, Langebaan en Laingsburg het agt voorvalle gerapporteer," sê sy.

Schäfer sê die probleem strek oor die hele provinsie en is een wat "ons almal moet aanspreek".

Sy sê die departement verskaf skole met sekuriteitsmaatreëls soos heinings, diefwering, sekuriteitshekke en alarms.

"Skole met sekuriteitswagte loop ook deur onder misdaad. Ongelukkig is die wagte self ook in gevaar," sê sy.

Van die 42 skole wat die afgelope skoolvakansie gevandaliseer en besteel is, is 24 daarvan met sekuriteit tydens vakansie voorsien."

Schäfer vra dat inwoners van die Wes-Kaap, ongeag of hulle kinders op skool het of nie,  eienaarskap van skole in hul gemeenskap moet neem.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters