2 maande gelede
WK hospitale kry swaar
propvol: Hospitale soos die Tygerberg-hospitaal hanteer groot volumes pasiënte. Foto: MELINDA STUURMAN  ~ 
’n duur spul: Bendeskietery kos lewens en baie geld. (Foto ter illustrasie) Foto: leon knipe
hoë volumes: Hospitale is onder druk weens mense wat in bendegeweld beseer word. Foto: netwerk24
propvol: Hospitale soos die Tygerberg-hospitaal hanteer groot volumes pasiënte. Foto: MELINDA STUURMAN

DIE impak van bendegeweld is verreikend en plaas geweldige druk op die gesondheidsektor en ander sektore.

Só praat die Wes-Kaapse minister van veiligheid en sekuriteit, Alan Winde.

Hy het ook gesê hy is bekommerd oor ál die voorvalle waarby vuurwapens betrokke is.

“Ons moet ontslae raak van die onwettige vuur­wapens op ons strate.

“Ek vra die gemeenskap om met die polisie saam te werk. Mense kan net 078 330 9333 bel en hulle sal so help om van die vuurwapens ontslae te raak.”

Dr. Nomafrench Mbombo, minister van gesondheid, sê die skerp toename in interpersoonlike geweld maak ’n kwaai impak op die gesondheidstelsel van die land.

“Interpersoonlike geweld dra by tot druk wat op noodsentrums geplaas word. Dit veroorsaak dat daar ’n vertraging is in behandeling vir gekose prosedures.

“By ongevalle-afdelings kry baie met mense te doen wat skiet- of steekwonde het. Die fasiliteite voel die geweld in die gemeenskappe aan ons lyf.”

Mark van den Heever, onderdirekteur van kommunikasie van die departement van gesondheid, sê hulle onderskei nie oor die “oorsaak” van wonde van pasiënte nie en kan dus nie vasstel of dit bendeverwant is nie.

“Ons kan wel sê baie gewelddadige beserings en trauma plaas wel druk op ons noodsentrums regoor die provinsie.”

Van den Heever sê vir die tydperk tussen 15 Desember laas jaar en 15 Januarie vanjaar is 30 713 gevalle deur nooddienste na hospitale geneem.

“Van dié getal was 23% (8 069) beserings wat gewissel het van steekwonde, skietwonde en fisieke interpersoonlike geweld.”

Volgens hom het patologiese dienste se werkslading tussen 2010 en 2016 met 17% gestyg.

“In 2016 in die Wes-Kaap het beserings 14% (6 770) van alles sterftes uitgemaak. Daarvan is 80% mans tussen die ouderdomme van 20 en 39 jaar.

“Van die 6 770 sterftes was 3 385 (51%) moord en die helfte daarvan is positief getoets weens alkohol.”

Die hospitale wat die besigste is, is in die metro­distrikte van Klipfontein, Tygerberg en Mitchells Plain. Van der Heever sê dit kos sowat R22 000 om iemand te behandel wat geskiet is en as ortopediese operasies nodig is, kos dit ’n verdere R25 000.

“Dit sluit in die vervoer per ambulans, behandeling wat hulle ontvang as hulle by die hospitaal aankom en rehabilitasie, of vir die forensiese patologie.

“Dis as iemand sterf en die oorsaak van sy dood vasgestel moet word.”

Pasiënte wat in staatshospitale behandel word, moet volgens die Uniform Patient Fee Schedule (UPFS) se tariewe betaal.

Mense wat nie werk nie of op pensioen is, kan soms verniet hulp kry.

Tussen 15 Desember laas jaar en 15 Januarie vanjaar is 101 mense met vuur­wapenskote behandel en 427 is met messe of ander wapens aangeval.

Van der Heever sê geweld plaas geweldige druk op die provinsie se reeds oorvol hospitale.

“Dit is grotendeels te wyte aan alkohol- en dwelmverwante misbruik.

“Ons het ’n kwaai styging in interpersoonlike geweld en dit raak die gesondheidstelsel erg,” sluit hy af.

  • Mense wat inligting oor onwettige vuurwapens kan inbring, kan R10 000 ontvang as die polisie die wapens konfiskeer.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters