6 dae gelede
Winkel-brand kelder kopers
HARD AAN'T WERK: Brandbestryders blus gisteroggend ’n brand wat in Shoprite in die Khayelitsha Mall uitgebreek het.  ~ Peter Abrahams

DIE oorsaak van ’n brand gisteroggend in die Khayelitsha Mall is vermoedelik ’n elektriese fout.

Die brand het omstreeks 07:30 in een van die stoor­kamers van die Shoprite-winkel ontstaan.

Dít juis in ’n tyd wanneer so iets nie bekostig kan word nie – met die lockdown countdown wat reeds in die land begin het.

Brandbestryders van die Stad Kaapstad se brand-en-reddingsdienste het die brand eers ná 11:00 onder beheer gekry.

Dinge in die res van die winkelsentrum het soos normaal voortgegaan terwyl die sowat 45 brandweerpersoneellede die brand probeer blus het.

’n Bron wat anoniem wil bly, vermoed die oorsaak van die brand het iets te doen met elektrisiteitsverbindings.

“Die instandhouding van die elektriese drade is al geruime tyd nie gedoen nie,” beweer die naamlose bron.

Nou worry talle inwoners van Khayelitsha oor waar hulle hul inkopies moet gaan doen ná die brand.

’n Inwoner van Ekuphumleni naby die mall, sê ook anoniem: “Hoe moet ons nou maak met die lockdown?

“Ons sal nou taxi moet ry na ander winkelsentrums in die township voordat die lockdown begin.

“Anders gaan ons sonder kos agter geslote deure sit, want daar is net een ander supermark in die mall.

“En obviously gaan dit môre propvol wees, aangesien dit pay day is ...”

’n Woordvoerder van die Stad Kaapstad se brand-en-reddingsdienste, Jermaine Carelse, sê verskeie brandweerstasies het gehelp in die operasie om die brand te blus.

“Ons het hier teen 07:40 ’n noodoproep ontvang oor ’n brand by een van die winkels in die Khayelitsha Mall,” sê Carelse.

“Ons het sowat 10 brandweerwaens, verskeie gespesialiseerde voertuie en sowat 45 personeellede na die toneel ontplooi om die brand onder beheer te kry,” voeg hy by.

Bakkery

“Brandbestryders het daarin geslaag om die brand in die stoorkamer te blus.

“ ’n Gedeelte van die deli en die bakkery is vernietig toe ’n gedeelte van die muur daar ineengestort het.

“Geen beserings is in dié stadium aangemeld nie.

“Die oorsaak van die brand is nog onbekend en word ondersoek.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters