Verlede maand
Whip en klap oor stuk lap
AANGERAND: ’n Polisieman raak up close en personal met ’n lid van die publiek. ’n Inwoner het vermoedelik die gebeure afgeneem.  ~ Foto Verskaf

DIE tonge klap behoorlik nadat gemaskerde cops ’n man met ’n sambok gelooi het – oor hy dit gedurf waag het om met ’n kaal gesig in die openbaar rond te loop.

Dié voorval het Maandag in Worcester se nywerheidsgebied gebeur.

En dat hierdie sambok-hêppie cops nou diep in die sop is, is nie te betwyfel nie. Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) het note gevat van die voorval.

In ’n video clipwat intussen viral gegaan het, kan ’n mens ’n vên van die Ceres-polisie sien.

Son verneem Worcester se cops gebruik dié vên.

Die Wes-Kaapse polisie­bestuur sit ná die voorval met pap op sy gesig.

In die video wat Son onder oë gehad het, kan jy sien hoe ’n ander polisieman ’n ander man visenteer.

Op die agtergrond kan ’n mens ook sien hoe ’n derde polisiebeampte, ’n vrou, die man wat later met ’n sambok geslaan word, herhaaldelik klap.

Die polisielid wat die man visenteer, vra hom waar sy masker is.

Daarna vat sy kollega die sambok wat hy agter sy rug gehad het, en slaan die ander man herhaaldelik.

Die 30 sekonde lange video eindig wanneer die twee slagoffers van die polisiebeamptes weghardloop.

Brig. Novela Potelwa, ’n woordvoerder vir die Wes-Kaapse polisiekommissaris, lt.kol. Yolisa Matakata, sê die provinsiale SAPD het dadelik nadat die video uitgekom het, met ’n ondersoek begin.

Genl.maj. Nomthetheleli Mene, bevelvoerder van die Worcester-polisiegroepering, lei die ondersoek.

Volgens Potelwa is die betrokke polisiebeamptes reeds geïdentifiseer.

Die twee slagoffers is egter nog nie geïdentifiseer nie.

Potelwa sê verder die aanranding van verdagtes of individue is teen die polisie se voorskrif van hoe beamptes mense moet behandel.

“Boonop is dit nie net vir polisiebeamptes verbode om ’n sambok te gebruik nie; dis onwettig,” sê sy.

Spoor

’n Woordvoerder van Opod, Ndileka Cola, sê die voorval is nog nie by hulle aangemeld nie.

Die woordvoerder voeg by: “Die direktoraat het die video gesien wat tans in die sosiale media die ronde doen en is besig om die slagoffers op te spoor.

“Die slagoffers word gevra om die Wes-Kaapse Opod-kantoor te kontak.”

Opod se kontaknommer is 021 941 4800.

Opod se kantore is op die eerste verdieping van die Fintrust-gebou op die hoek van Petrusa­straat en Mazzurweg in die middestad van Bellville.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters