9 dae gelede
Wet en orde rafel nóg uit
VERLATE: Die skietvoorval in Mfuleni omstreeks ’n week gelede het buite dié shebeen plaasgevind.  ~ Anele Mfazwe

GRONDBESETTINGS raak nou ’n frustrerende hoofpyn.

Só sê die Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid ­belas met veiligheid en ­sekuriteit, JP Smith, ná ’n voorval in Mfuleni.

’n Polisievoertuig van die Durbanville-polisiestasie wat Sondag deur dié township gery het, is deur ­woedende grondbesetters aangeval.

Dié voorval volg skaars ’n week ná ’n bloedbad waarin ses mense koelbloedig doodgeskiet is.

Son het laas week berig hoe vyf mans afgemaai is en ’n onskuldige vrou ook doodgeskiet is toe sy in die kruisvuur beland het.

Daar is nog geen ­arrestasies in verband met die skietvoorval gedoen nie.

BEWYSE: Skote het behoorlik buite die shebeen geklap. Foto: Anele Mfazwe

Die polisievoertuig van die Durbanville-polisiestasie wat Sondag in Mfuleni ­aangeval is, was op die verkeerde plek op die verkeerde tyd.

Volgens ’n polisiewoordvoerder, sers. Noloyiso Rwexana, het die plakkers die polisievoertuig met ­klippe bestook voordat hulle dit aan die brand gesteek het.

Rwexana sê verder: “Twee SAPD-lede ontvang mediese behandeling nadat ’n voertuig van die Durbanville-SAPD in School-straat by Extension 3, Mfuleni, gery het en deur woedende gemeenskapslede aan die brand gesteek is.

“Die gemeenskapslede het hul frustrasie op wetstoepassingsvoertuie uitgehaal nadat die Stad Kaapstad se wets­toepassers Sondagmiddag ­strukture in die area afgebreek het.

Wet

“Die skare het die voertuig met klippe bestook en dit later aan die brand gesteek.”

Smith het gister in ’n telefoniese onderhoud met Son gesê: “Grondbesetting het sedert die begin van lockdown ’n reuse-hoofpyn geraak.”

Hy sê verder: “Die ­lockdown is nou besig om self ’n hoofpyn te raak.”

SPOOKDORP: Só het die straat ’n dag ná die slagting in Mfuleni gelyk. Foto: Anele Mfazwe

Smith meen grondbesetters dink hulle kan die wet ­sonder enige gevolge gewelddadig oortree.

Volgens hom maak ’n hofbevel, sowel as die Wet op Rampbestuur wat onder die ­lockdown geld, dit moeilik vir wetstoepassers, metropolisielede en die SAPD om teen ­grondbesetters op te tree.

Smith voeg by hy is nie die enigste een wat ­gefrustreerd raak met dié “wette­lose” plakkers nie.

Volgens hom konfronteer inwoners hom gereeld oor die grondbesettings wat ­sedert die lockdown oral begin plaasvind het.

Hy sê: “Daar is baie gemeenskapslede wat glad nie beïndruk is met dié grondbesettings nie.

“Mense ­kon­fronteer my elke dag in areas soos Delft en Khayelitsha rakende dié grondbesetters.

“Dit het ’n hoogs negatiewe impak op wetstoepassing en maatskaplike orde.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters