7 dae gelede
Werknemers eis hul lone
Staan saam: Die werkers durf die koue aan met hul memorandum.  ~ Verskaf

ATLANTIS. – Meer as 100 werkers hier het die deuntjie “no work, no pay” na “no pay, no work” verander.

Dít kom nadat permanente werkers reeds in Februarie op short-time geplaas en finansieel aan hul eie genade oorgelaat is.

Gister het die werkers ’n memorandum aan die bestuur van die Atlantis-tak van Hisense oorhandig.

Die werkers, wat almal in die TV-afdeling werk, sê hulle is toegewyd aan hul job.

Hulle dreig egter hulle sal beslis nie terugkeer werk toe voordat hul geld aan hulle betaal is nie.

’n Werknemer wat verkies om anoniem te bly om viktimisering deur die werkgewer te vermy, sê die HR-afdeling dien in die bestuur en die werkers wil dit nie so hê nie.

“Alles het begin toe daar ’n delay was met die aflewering van ons departement se materiaal.

“Ons is toe op short-time geplaas. en in Maart is die notice uitgestel,” vertel die ouer van vier.

“In April is Hisense deur Sars investigate en dit was kamstig hoekom ons nie kon terugkeer werk toe nie.

Bystand

“Ons as werkers het min ondersteuning van die union gekry.

“Daar was in Mei ’n vergadering tussen Numsa en Hisense­. Daarvan het ook niks gekom nie.

“Die HR-bestuur het ook geen bystand gebied met navrae oor die maande nie,” vertel die ontstelde werker, wat al jare gehaltebestuur vir Hisense doen.

Die werker noem dis gemeenskapsleiers, wat nie eens vir Hi­sense werk nie, wat die werkers bygestaan het.

Anastacia Davids, ’n gemeenskapsaktivis, vertel die werkers het die unie genader oor die kort werkure en meegaande lae lone en dit ook aan Hi­sense deurgegee.

“Hisense het verkeerd aansoek gedoen en net plus-minus 10 mense het hul gelde gekry.

“Daar wys ook op die sys­tem dat die aansoeke vir die geld vir Knysna gedoen is en nie Atlantis nie,” sê Davids.

Debakel

“Die werkers het die bestuur gevra vir bewyse en inligting oor die aansoeke, maar volgens hulle is dit confidential.”

Davids voeg by dat die maatskappy verskillende opsies aan Numsa gegee het.

Sy noem hierdie debakel kan opgelos word.

Een van die opsies is om van die werkers se bonusgeld te betaal.

’n Ander opsie is om sowat 40 van die werkers tydelik in die fridge-afdeling te plaas om daar te werk.

“Dis onaanvaarbaar! Wat van die ander werkers wat ook na hul gesinne moet omsien?”

Van die werkers sê die geld vir hul verminderde werkure waarop hulle geregtig is, beloop ook al R15 000.

Hulle het in dié paar maande ook reeds sowat R30 000 in salarisgeld verloor.

“Ons sal nie terugkeer werk toe voor ons ons gelde ontvang het nie.

“Dis no pay, no work,” laat hoor ’n 39-jarige vroulike werker.

’n HR-personeellid van Hisense het in kommentaar gesê: “Die saak is tans nie in die openbare belang nie en die betrokke rolspelers het reeds hieroor vergader.

Bekend

“Daar word nog op die uitslag hiervan gewag.

“Sodra dit bevestig is, sal dit aan die media bekend gemaak word.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters