Verlede maand
Wenner wil sy jackpot geheim hou
GROOT GELD: Christelene Cupido werk die Lotto-masjien.  ~ Leon Bonthuys

DIE jongste Lotto-wenner van Gauteng gaan nie eens sy ma vertel hy het gewen nie.

Die gelukkige wenner het met 29 Julie se trekking R37 951 526 ryker geword.

“Ek gaan niemand in my familie sê nie, ook nie my ma nie. As ek haar sê, vertel sy dalk per ongeluk haar beste vriend en dit kan probleme veroorsaak en selfs my veiligheid in gedrang bring.”

Hy is ’n entrepreneur en het R20 spandeer en sy eie nommers gekies.

“Sedert ek gehoor het ek het die jackpot gewen, kan ek nie slaap nie. Ek het gemengde emosies. Ek is die een oomblik kalm, dan word ek senuagtig. My emosies is die laaste paar dae soos ’n roller coaster.”

Hy sê hy speel die Lotto van 19-jarige ouderdom af en het altyd gehoop hy sal gelukkig wees.

“Maar die wen verander ’n mens se lewe en dit was ’n groot verrassing.”

Hy speel al die afgelope vier jaar dieselfde nommers.

Kussing

“Ek speel dit met die Lotto, PowerBall en Daily Lotto.

“Ek wou ’n quick pick speel omdat ek die laaste jare dieselfde nommers speel. Die meeste wat ek gewen het met my eie nommers, is R12 000.”

Hy sê hy het gevra vir ’n quick pick, maar toe sê sy gut hy moet weer sy ou nommers speel.

“Toe ek sien ek het die Lotto gewen, het ek twee nagte met die kaartjie onder my kussing geslaap. Ek het kort-kort wakker geskrik en weer na die nommers gekyk.”

Hy wil ’n kar koop vir sy besigheid, sy ma se huis groter laat maak en ’n grafsteen op sy oorlede pa se graf sit.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters