3 maande gelede
Wegholwa eis kindjie
HARTVERSKEUREND: Imonisha Peters se liggaam lê toegegooi met ’n silwer kombers. FOTO’S VERSKAF  ~ 

DIE koue hand van die dood het nóg ’n engelkind weggeruk.

Imonisha Peters (4), ’n gr. R-leerder van Happy Valley­ in Blackheath, is Maandagmiddag deur ’n treiler met swaar yster op dood­gestamp.

Na verneem word, het die treiler losgekom van die bakkie en die kind getref.

Imonisha en haar oupa Imon Peters (60) het van die garage af gekom toe die ongeluk in Buttskop gebeur.

Sy het veelvuldige beserings opgedoen en op die toneel gesterf.

Peters vertel: “Ons het van die garage af terug­gekom nadat ek by die ATM gaan geld trek het.

“Ek het vir haar ’n choco­late gekoop. Sy het my nog gevra om dit oop te maak.

“Ek het dit oopgemaak en vir my twee blokkies afgebreek. Ek het toe net ’n geraas gehoor.

“Toe ek opkyk, het die treiler op ons afgepeil.

“Ek het haar probeer gryp, maar sy het uit my arms gegly.

“Die treiler het haar getref, deur die draadheining gegaan en teen ’n bakkie in die perseel van die maatskappy tot stilstand gekom.

“Die bloed het by my kleinkind se mond en neus uit­gekom.

“Die driver het tot by die fabriek gery en in sy kantoor ingegaan.

“Hy het weer uitgekom en wou weet hoe hy die kind moes gesien het.

“Ek is baie ongelukkig oor die driver se houding op die toneel.

“Ek was baie lief vir my kleinkind en is baie hartseer.”

Volgens Imonisha se een ouma, Rene Jonkers (41), het die meisietjie die middag nog by haar gespeel.

’n Verpletterde Jonkers vertel: “Die oupa het verby die huis geloop en sy het hom geroep.

“Sy het saam met hom na die garage geloop en toe hulle terugkom, het die ongeluk gebeur.

“Sy was reeds dood toe ek op die toneel kom.

Manslag

“Ons gaan haar baie mis. Sy het in almal se harte ingekruip.”

Die polisie was gou op die toneel.

Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en gesê ’n saak van strafbare manslag is geopen.

Van Wyk het gesê hulle het die driver se besonder­hede, maar niemand is nog gearresteer nie. 

Lewer kommentaar op hierdie artikel
2 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters