2 jaar gelede
Weggooi-baba se stem bekoor
BAIE TALENTVOL: Bianca Solomons (links) by haar trotse aanneem-ma, Ellen Fouché.Foto: GREGORY NOBLE  ~ 

HAAR ster skitter helder in hulle wendy­huisie.

Die sangeres Bianca Solomons­ (16) van Kraaifontein raak baie harte met haar kragtige stem en warm persoonlikheid.

Haar oorlede ma het op die Kraaifontein-stasie in ’n openbare toilet die lewe geskenk.

Ellen Fouché (56) sê: “Dit was ’n warm dag toe ek by my voordeur uitkyk en Bianca se ma ontmoet. Sy het gesê sy voel nie lekker nie en dis tóé dat ek haar water gee.

Beste

“Sy het my gevra of ek vir die aand na die baba wou kyk, want sy het nêrens om heen te gaan nie.”

Die volgende oggend sou sy die baba kom haal, maar sy het nooit teruggekom nie. En vandag is dit 16 jaar later.

Bianca sê: “Mama Ellen is baie liefdevol en ek sal altyd dankbaar wees, want sy is die beste ma.”

Bianca sing al van ses jaar oud af. Sy is in gr. 10 aan die Hoër Tegniese Skool Bellville en sing ook in die skoolkoor.

Fouché ly aan motorneuronsiekte en sê Bianca se sang motiveer haar om in die oggende op te staan.

Sy het verlede jaar aan ’n sangkompetisie in Port Elizabeth gaan deelneem en sommer die tweede plek gekry.

“Dit maak nie saak of jy in ’n wendyhuisie bly nie, want dit bepaal nie wie jy is of waarheen jy op pad is nie,” sê die tiener.

“Ek kan nie wag om vir Lynelle Chrystal Kenned, wat opera sing, op 3 Maart (vandag) te ontmoet nie, want sy is my groot inspirasie.”

Hulle sal op die Universiteit Stellenbosch se Woordfees ontmoet.

Bianca gaan die naweek ook in eNuus verskyn in haar eerste TV-verskyning.

  • Bel Samantha Oliphant, Bianca se bestuurder, by 076 064 6220.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters