Verlede maand
Weermag wurg, waterboard my

“MY LEWE het voor my verbygeflits. Ek het gedink hier gaan ek nou dood ...”

Só het die Kaapse operasanger James Bhemgee gister vertel nadat lede van die weermag hom na bewering gemartel het.

’n Emosionele Bhemgee het gister uit die Mitchells Plain-daghospitaal gepraat.

Bhemgee, oorspronklik van Kalksteenfontein, beweer die army het hom in sy huis in Rocklands aangeval.

“My 29-jarige seun is ’n roker.

“Hy en sy vriende rook altyd Mandrax-tablette in die huis. Ek skel hulle altyd daaroor uit, maar in dieselfde asem sal ek ook vir hulle tee en koffie gee.”

Bhemgee vertel die weermag en polisie het in vier army-trokke en drie vang­waens opgedaag.

“Die cops ken my. Hulle het eenkant gestaan toe van die army-ouens my vasdruk en vra waar die drugs is.

“Ek was geskok en het gevra watter drugs. Ek rook nie eens ’n entjie nie.”

Dis toe dat die ding begin ruk het.

“Hulle het my vasgedruk en my T-shirt oor my gesig gesit.

“Toe gooi hulle ’n klomp water oor my kop.

“Heeltyd het hulle gevra waar die drugs is.”

Bhemgee sê hy het gevoel hy gaan verdrink. “Ná die marteling het hulle my geskop, getrap en gewurg. Daar was ’n tyd dat een van hulle op my gestaan het.”

Holly Moses, ’n vriend van Bhemgee, het hom daghospitaal toe geneem. Moses sê Bhemgee het gelyk soos een wat deur ’n kar getrap is.

“Sy nek is vol wurgmerke en sy oë is bloedrooi. Op sy lyf het hy ook merke. Ek gaan saam met hom hier bly totdat iemand hom help. Daarna gaan ek hom ook help om ’n saak te maak.”

Bhemgee sê hy gaan die voorval net so los nie.

“Hulle gaan dit aanmekaar doen. Nou begin ek glo as onskuldige mense só gemartel word, confess hulle sommer oor goed wat hulle nie gedoen het nie.”

Ingetree

Artists het die army gekap oor die voorval.

Ashley Pienaar van Ashley Pienaar Productions sê dis ’n skande dat Bhemgee so behandel is.

“Bhemgee het so ’n mooi storie en hy is ’n man van soveel talent. Die polisie kon ingetree en hulle eie werk gedoen het.”

Bhemgee, ’n voormalige straatveër, het SA’s Got Talent in 2010 gewen.

Die talentvolle sanger se familie is die laaste paar maande deur die dood geteister. Vier familielede, onder wie sy suster en seun, is sedert November laas jaar in skietvoorvalle dood.

Bhemgee sê hy moes Vrydag op ’n event in Belhar sing, maar ná dié voorval sal hy dit nou moet kanselleer.

  • Geen klag is nog gelê nie aangesien Bhemgee gister teen druktyd nog in die hospitaal was.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
1 reaksie
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters