2 maande gelede
Weer in saal
Verrassing: Riedewaan Samuels en sy oupa Shafiek spog met sy splinternuwe resiesfiets.  ~ 

’N 17-JARIGE matriekleerder, Riedewaan Samuels, laat die speke behoorlik sing vir vrede.

Dié leerder van die Hoërskool Groenvlei oefen nou hard vir die Cape Town Cycle Tour.

Die splinternuwe resies­fiets waarmee hy oefen­, is ’n geskenk van Alan Winde, die minister van gemeen­skaps­veiligheid.

Winde het Riedewaan die fiets belowe toe hy hom in November in die hospitaal besoek het.

Riedewaan is ’n ambassadeur vir vrede in Hanover Park. Hy is vier keer geskiet terwyl hy en sy vriende sokker gespeel het.

Riedewaan glo hy is geskiet oor hy jong mense aanmoedig om bende­bedrywighede te vermy of diegene wat reeds betrokke is, aanmoedig om hul lewe te verander.

denkbeeldige waterbottel: Riedewaan Samuels wys die minister van gemeenskapsveiligheid, Alan Winde, hy is reg vir die Cape Town Cycle Tour.

Hy het aan Winde gesê hy ry graag fiets. En Winde is self ’n fietsryer.

Riedewaan sê hy het begin­ oefen vir die Cape Town Cycle Tour toe sy fisioterapie ’n maand gelede afgehandel is.

Hy doen matriek nou oor omdat hy gedurende die eindeksamens in die hospitaal was.

Inspirasie

Riedewaan sê opgewonde: “Verlede jaar het dit my vyf uur gevat om die race te voltooi; dié jaar wil ek dit binne drie uur aflê.”

dankbaar:Riedewaan Samuels se ma, Badronessa, ouma Faghma en oupa Shafiek aanvaar saam met hom sy fiets van Alan Winde.Foto’s: BASIL AFRIKA

’n Onderwyser en koördineerder van Groenvlei Hoër se fietsryklub, Godfrey Hendrickse, bestempel Riedewaan as ’n inspirasie vir die ander leerders.

Hendrickse sê met trots: “Hulle gaan aan die toernooi deelneem om ’n bewus­makingsveldtog teen kanker te voer en ’n gesonde leefstyl onder jong mense te bevorder.

“Die belangrike aspek is ook om vrede in die gemeenskap te bevorder.”

Winde sê dwelmmisbruik en bendebedrywighede kom grootliks voor weens werkloosheid.

Oor Riedewaan sê hy: “Hy is ’n baie spesiale outjie wat nie toelaat dat omstandighede hom onderkry nie.

“Hy probeer ander help en om Hanover Park ’n veiliger plek te maak.

“Jong mense kan ’n groot rol speel om die bende­geweld te stop.”

Winde voeg by ongeveer 5 000 slagoffers is die afgelope 10 jaar dood in bendegeweld in die Wes-Kaap.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters