Verlede maand
Weer hof vir ‘Juf. Plathand’
VAT SO: Juf. Clarissa Venter deel na bewering ’n klap uit.  ~ Foto Verskaf

NET toe die stof gaan lê het, is die onderwyseres Clarissa Venter weer aangekla vir ’n snotklap wat sy ’n leerder laas jaar gegee het.

Venter, ’n onnie by die larney Hoër Meisieskool Sans Souci in Nuweland, was Vrydag geskok toe sy hoor die aanrandingklag het weer opgestaan.

Dis nadat die klag teen haar op 23 Augustus geheel en al teruggetrek is.

Venter en nog minder die ma van die leerder het geweet van dié nuwe verwikkeling.

Volgens Venter se prokureur, William Booth, is sy deur die polisie in kennis gestel dat hulle haar ’n lasbrief moet gee om op 11 Maart in die Wynberg Landdroshof te verskyn.

Booth sê in ’n verklaring: “Ons is geskok dat sy weer gelas is.

Oorweeg

“Wat ons betref, is die saak afgehandel en daar is geen gronde waarop vervolging heringestel kan word nie.

“Die hooflanddros in Wynberg het ál die getuienis in die polisiedossier en ál die omstandighede rondom die saak oorweeg.

“Op grond van die getuienis het hy beslis daar is geen redelike vooruitsig op suksesvolle vervolging nie.

“Ons probeer vasstel op watter gronde ons kliënt weer gelas is.

“Vanuit ’n regsperspektief, nadat vertoë gerig is en ’n aanklaer op senior-vlak alle feite van die saak oorweeg het en weier om te vervolg, moet dit die einde van die saak wees en dit moet as afgehandel beskou word.

“Ons is ook nooit deur die direktoraat van openbare vervolging (DOV) in kennis gestel dat hulle besluit het om my kliënt hof toe te vat nie.”

Toe Son Venter gister kontak, het sy gesê sy wil ook baie graag weet hoekom sy weer aangekla is.

Die leerder se ma het aan Son gesê sy het deur die media verneem dat die saak weer oopgemaak is.

Sy sê: “Toe die saak die eerste keer teruggetrek is, het ek ook dít maar eers agterna gehoor.

“Ek het gewonder hoekom die saak in die eerste plek teruggetrek is. Die reg moet maar nou sy beloop neem.

“Eers as my kind gesummons word om hof toe te gaan, sal ek hof toe gaan.”

Volgens die ma vaar haar kind goed in haar nuwe skool, maar die gebeure sal vir altyd oor haar kop hang.

Sy sê: “My dogter is oor die ergste en het laas jaar geslaag.

“Die enigste probleem is dat onderwysers en kinders haar altyd as gevolg van die gebeure onthou en haar daarvoor uittart.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters