2 maande gelede
Was gang hit ’n miss?
ernstig: Een van die slagoffers word na die Groote Schuur-daghospitaal geneem.  ~ 

’N JONG ma het gister­oggend haar lewe verloor toe sy in gangsters se visier beland het.

Miceala Youde (21) is een van vyf mense wat tydens ’n bendeslagting in Cafda, Retreat, raak geskiet is. Die ma van ’n eenjarige dogtertjie is ál een wat dood is.

Youde het nog haar suster se kind op die arm gehad toe ’n wit kar voor die winkel op die hoek van Blagden- en Komlossystraat stilhou. Kort daarna het die skieters losgebrand.

Youde se suster, Jadine Matthews, het aan Son gesê sy dink die skieters het haar suster vir iemand anders aangesien.

Volgens ooggetuies het die skieters Youde­ eers aangesê om haar suster se kind neer te sit voordat hulle haar geskiet het.

’n Geskokte Matthews vertel: “Hulle het haar al in die maag geskiet.

“Daar was geen skade aan haar gesig nie.

“Haar gesig het mooi en peaceful gelyk.”

Youde se ander susters wou nie kommentaar lewer nie. Hulle was nog te getraumatiseerd.

In dieselfde voorval is Russel Petersen (46) van Ardleigh Park in die kop geskiet. Hy was op pad na sy suster in Steenberg.

Owen Andrews is in die rug getref, Edmund Abrahams in die been en ene Charlene is skrams getref.

Met Son se besoek aan die Retreat-daghospitaal het Youde­ se hartseer familie­lede een vir een van haar kom afskeid neem.

Van hulle moes deur ander familielede ingedra word. Die skok was net te groot.

Die paramedics het Petersen, Andrews en Abrahams later die middag van die Retreat-daghospitaal na die Groote Schuur-hospitaal geneem.

Petersen se skoonsuster, Eleanor Forbes, het oor die foon vir Son gesê hy is in ’n kritieke toestand.

Die dokters het nie baie hoop vir hom nie.

Forbes het gesê: “Daar is baie inwendige bloeding. Dit lyk glad nie goed nie.

“Ons weet ook nie of hulle op hom gaan opereer om die bullet te verwyder nie.”

Volgens Forbes het een van die ander slagoffers kans gekry om vir sy ma te sê wie hom geskiet het.

’n Polisiewoordvoerder, sers. Noloyiso Rwexana, sê die Steenberg-polisie ondersoek sake van moord en poging tot moord.

Dit kom nadat ’n skietery gister omstreeks 10:35 uitgebreek het.

Rwexana het gesê: “ ’n Vrou (21) is doodgeskiet en drie mans (27, 28 en 32) is gewond.

“Hulle is na ’n hospitaal geneem vir behandeling.

“Die polisie volg alle moontlike leidrade op.

“Hulle vra dat lede van die gemeenskap wat nog inligting het Crime Stop by 08600 10111 kontak.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters