11 dae gelede
Wag vir huis ‘kat-en-muis’
NOU MOEG GEWAG: Riedewaan de Beer sê hy is al langer as 20 jaar op die waglys.  ~ Peter Abrahams

“ONS voel soos ’n ver­gete gemeenskap. So, as hulle nie vir ons mense huise op daai veld gaan bou nie, wil ons f*kk*l daarop hê nie.”

Dís hoe ontstelde back­yard dwellers van Parkwood ná jare se gewag voel.

Die plakkers sê hulle wil nie verbind word met Gatvol Capeton­ian se shutdown-betogings nie, want hul fight kom al jare aan.

Die inwoners het hul fight verlede Vrydag en die afgelope week straat toe gevat.

Maandag het dinge handuit geruk, maar die inwoners voel hulle het ten minste hul punt gemaak.

Die backyard dwellers beweer die Stad vat hulle vir ’n gat. ’n Paar van hulle is verlede week ingelig grond tussen Prince George Drive en Parkwood gaan vir ’n vullis-dump gebruik word.

Volgens die inwoners was dié veld vir behuising bedoel en die Stad speel al jare ’n “kat-en-muis-game” met hulle.

Ashief Naidoo, ’n inwoner, sê die gemeenskap is net mooi dik vir leë beloftes.

“Kyk, hier’s omtrent 2 000 hokke in Parkwood. Daar’s mense wat al 30, 40, 50 jaar vir behuising wag.

“Promises word gemaak en suiker word op ons mense se lippe gesmeer. Ob­viously gaan ons gemeenskap moeg raak van die leë beloftes, veral wanneer daar sonder hul kennis ander planne in plek is.”

Naidoo sê die inwoners is ook kwaad omdat die Stad nie eens vir hulle die geleentheid vir jobs gee nie.

“Met developments soos huise is daar job creation, maar ons mense sit by die huis. Hoekom dink hulle nie aan ons nie?

“Ons is gefrustreerd. Ek wil nie hê my dogter moet trou en ook in ’n hok bly nie. Daar is niks vir ons bruin mense nie.

“Daai is hoekom Parkwood se mense nee sê vir die (dumping) site.”

Riedewaan de Beer, wat al langer as 20 jaar op die waglys is, sê hy is ook baie ontevrede met die manier waarop die Stad die proses hanteer het.

“Ek is al moeg van baklei. Hoeveel jare moet ons nog wag en hoeveel meer ex­cuses moet gemaak word?

“Jare sê hulle daar is ’n plan in plek om huise vir ons te bou. Jare het ons gehoor hulle kan nie op daai veld bou nie omdat daar pype lê, nou wil hulle ’n tiep bou. Dit hou ook ’n gesondheidsrisiko in.”

Beskadig

Brig. Novela Potelwa, ’n polisiewoordvoerder, sê hulle het die betogers aangeraai om na die kant van die pad te beweeg toe hulle met klippe gegooi is.

“ ’n Polisievoertuig is beskadig en vier minderjariges is weens openbare geweld gearresteer.”

Malusi Booi, die Stad se mayco-lid vir behuising, sê hulle is nie 100% seker oor die presiese grond waarna die mense verwys nie.

“Die Wes-Kaapse regering is besig met die Greater Retreat-projek. Die doel daarvan is om behuising te verskaf in gebiede met groot behoefte, insluitend Parkwood.

“ ’n Paar vakante terreine is reeds geïdentifiseer en word tans ondersoek vir uitvoerbaarheid.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters