Verlede maand
Wag kry dooie in ’n dumpster
HARTSEER: Cristelle Witbooi vertel met trane in haar oë hoe haar seun, Jaden Buys (17), om die lewe gebring is.  ~ Anele Mfazwe

DIE liggaam van ’n ongeïdentifiseerde man is in Atlantis in ’n dumpster gekry.

’n Sekuriteitswag het die lyk Dinsdagnamiddag by die ou Atlantis-winkelsentrum ontdek.

Manfred van Rooyen, ’n sekretaris van Voice of Atlantis, ’n organisasie sonder winsbejag, sê niemand weet hoe die man se lyk daar beland het nie en die oorsaak van sy dood is onbekend.

Geopen

Son het vroeër vandeesweek berig moorde in die area is besig om toe te neem omdat bendes baklei oor turf vir hul dwelmbedrywighede.

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n woordvoerder van die polisie, bevestig ’n geregtelike ondersoek is geopen in verband met die lyk wat in die vullisblik ontdek is.

Intussen bloei ander families in Atlantis steeds weens die diepe pyn wat die voortslepende bendegeweld in die area vir hulle veroorsaak het.

Cristelle Witbooi (40) vertel gister met trane in haar oë hoe haar 17-jarige seun, Jaden Buys, is in September verlede jaar doodgesteek is.

Volgens haar is Jaden, ’n gr. 11-leerder in Hoërskool Proteus, doodgelem oor ’n meisie wat hy vroeër verlede jaar by die skool ontmoet het.

Die twee het met mekaar begin uitgaan.

Witbooi sê: “As ek nou die matrikulante sien, raak ek hartseer, want dit was veronderstel om sy jaar te wees om sy matriek te doen.

“ ’n Jong wat jaloers was op hom omdat hy saam met daai girl uitgegaan het, het hom voor sy meisie gesteek.

“Die gemis is baie groot, want hy het hier saam met my en my ma grootgeraak.

“Hy is my ma se eerste kleinkind.”

Jaden se saak sloer nog in die hof, vertel Witbooi verder.

Op 11 Februarie is die 29-jarige Jayson Festus in ’n geval van mistaken identity doodgeskiet.

Van Rooyen sê: “Verbygangers vertel die drie skieters het – nadat hulle hom klaar geskiet het – vir mekaar gesê: ‘Jô! Dis nie die bra wat ons gestuur is om af te haal nie.’ ”

Festus se ma, Henna, sê niemand is al in hegtenis geneem vir die moord op haar seun nie.

Teruggebring

Marlene Adams sê die onlangse moorde in Atlantis het ou wonde oopgekrap.

Dit het die pyn teruggebring van die moord op haar seun, Domaine Adams (29).

Domaine is op 8 Februarie dood nadat vermeende bendelede hom aangerand het.

Die familie van Bayden Davids (39), ’n pa van ses, rou ook nog oor sy skietdood op 13 Februarie 2017.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters