Verlede maand
Vyf sterf in erge wendy-inferno
as: Hester Petersen, eienaar van die huis, se seun Orbin van Wyk is in die brand dood. Foto’s: JONATHAN LESTRADE  ~ 

’N OUMA en haar drie kleinkinders het Saterdagoggend tragies in ’n brand gesterf.

Die brand het in die vroeë oggendure in Buffelsfontein-straat, Tafelsig, ontstaan, toe hul wendyhuis na bewering weens ’n elektriese kortsluiting aan die brand geslaan het.

Rosetta Arendse (64) en haar boyfriend, Orbin van Wyk (49), het in die brand omgekom. Arendse se kleinkinders, Franklin Peters (18), Stephanie Muller (8) en Rabia Muller (5) het ook doodgebrand.

Zahier Muller (2) het die brand oorleef, maar brandwonde aan sy kop en hande opgedoen. Hy is uit die hospitaal ontslaan, maar sy gesig is nog opgeswel. Hy moet weer vandag by die Rooi Kruis hospitaal wees vir behandeling.

Sy oom Samuel Muller, wat hom uit die brandende wendyhuis gered het, het ook brandwonde aan sy kop en bors opgedoen.

Muller het die deur oopgetrap en kon net vir Zahier red.

Volgens die slagoffers se ma, Victoria Muller, wat nege maande swanger is en in Eastridge woon, het haar drie kinders Vrydag by hul ouma in Tafelsig gaan kuier.

’n Hartseer Victoria sê: “Die kinders het by hul ouma kom kuier. Hulle moes geslaap het toe die brand ontstaan het en ons vermoed dit was ’n kortsluiting.

“Toe ons daar kom, het die wendyhuis nog gebrand. Die brandweerdienste was nog op die toneel. Ons het rondgevra waar ons kinders en ma is. Eers toe die brand klaar is, het die paramedici vir ons kom sê van die kinders en ons ma wat doodgebrand het.”

Volgens Hester Petersen (68), eienaar van die huis, het haar seun Orbin en sy girlfriend, Rosetta, agter in die wendyhuis gewoon.

Petersen sê: “Ek het gelê en slaap toe ek die geraas hoor. Ek het gedink die mense baklei buite. Ek het opgestaan en toe gaan kyk wat aangaan.

“Die deur was gesluit en my ander seun het die deur oopgemaak.

“Die wendyhuis was aan die brand en ek het vir Orbin gesoek.

“Eers toe die brand klaar was, het ons besef hulle is almal in die brand dood. Hulle moes geslaap het, want niemand het om hulp geskree nie. Die mense het die brand probeer blus, maar die vlamme was te erg.”

wat nou? Brandon Petersen, broer van die slagoffer Orbin Petersen, wat in die brand omgekom het.

Begrafnisse

Volgens Jermaine Carelse, woordvoerder van die Stad se brandweerdienste, is die brand sowat ’n uur later geblus. Hy bevestig vyf mense het in die brand omgekom.

Dan Plato, burgemeester van Kaapstad, sê: “Dis ’n tragiese voorval wat plaasgevind het. Die Stad Kaapstad beplan om die familie finansieel te help met die begrafnisse.

Volgens kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, moet die oorsaak van die brand nog bepaal en ’n nadoodse ondersoek nog gedoen word om die identiteit van die slagoffers te bepaal.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters