Verlede maand
Vyf kinders skielik wesies
Lizel Toontjies  ~ Verskaf

LAMBERTSBAAI. – Vyf kinders sal nou sonder ’n ma moet grootword nadat hul mammie op Moedersdag doodgelem is.

Lizel Toontjies (36) sal nooit weer ’n Moedersdag beleef of ’n ma vir haar kinders kan wees nie.

Op die noodlottige dag het Toontjies nog aan haar eenjarige kind beloof dat sy huis toe sal kom – ’n belofte wat sy nou nooit sal kan nakom nie.

Ooggetuie

Toontjies se boyfriend het haar na verneem word op Moedersdag na sy huis gelok en na bewering daar doodgesteek. Die couple het glo die vorige aand gefight.

Jullian Lukas, ’n ooggetuie, sê dié berk het Toontjies eers gelem en toe met die mes gesteek.

Volgens Lukas het Toontjies glad nie terugbaklei nie en op die plek inmekaar­gesak.

Hy sê die boyfriend het toe in ’n skoktoestand gegaan en Toontjies probeer vertroos.

Die slagoffer se oudste suster, Rosely Jooste (45), en haar skoonsuster Esmarelda van Rheenen (32) was albei diep bedroef toe hulle met Son oor die voorval gepraat het.

Toontjies se kroos het stil gestaan en luister.

Van Rheenen het gesê: “As sy (Toontjies) net haar gut feeling vertrou en by die huis gebly het, sou dinge anders gewees het.

“Lizel was nie seker of sy na haar boyfriend moes gaan nadat hy haar laat roep het nie.”

Gedwee

Volgens die hartseer familie was Toontjies en die berk 12 jaar lank in ’n complicated verhouding.

Die familie sê die boy­friend was in en uit die tronk, terwyl Toontjies elke keer gedwee op hom moes wag.

“Hy’t haar abuse, ja,” het Van Rheenen geen doekies omgedraai nie. “Ons het al baie kere probeer om hulle weg van mekaar te kry, maar ons kon net nie.

“Daar was tye dat sy in die aand geskreeu het en dan gaan help ons haar, maar sy het daai leefstyl gehad en die nodige liefde van haar familie was altyd daar.”

GEBROKE: Rosely Jooste, die slagoffer se oudste suster (links), en haar skoonsuster Esmarelda van Rheenen kon nie hul trane keer nie. Foto: Jonathan Lestrade

Die boyfriend se huis waar die tragedie plaasgevind het, is enkele meters van Toontjies se ouerhuis.

Kort nadat die mammie daarheen is, is die familie laat weet om dadelik na die boyfriend se huis te kom.

Van Rheenen vertel: “Toe ek daar gekom het, het haar pols steeds geklop. Sy’t nog iets gemompel, maar toe raak die pols flouer.

“Terwyl ons vir die ambulans gewag het, het ek net gehoor hoe die mense gil. Dít was toe sy haar laaste asem gevat het.”

Van Rheenen sê hulle het toe gehoor die beskuldigde is in sy huis.

Hulle is toe na hom om aan te dring op antwoorde.

Die polisie is ingeroep en die skare is uiteengejaag voordat die boy­friend gearresteer is.

Jooste onthou haar suster as iemand wat altyd liefdevol was en wat altyd tyd gehad het vir ’n joke.

“Al het sy getik, was sy baie lief vir haar kinders. Sy het hulle altyd eerste gesit en vir hulle gesorg.”

Die gebroke suster voeg by dat sy veral haar sussie die oggend ná die moord gemis het.

Swaar

“My hart het gebreek, want elke oggend hoor jy hoe daai pot geroer word,” vertel sy. “Dis wanneer sy opstaan om vir die kinders pap te maak.

Van Rheenen sê Toontjies se vyf kinders weet dat hul mammie nie meer in die land van die lewendes is nie. Hulle vat dit baie swaar, sê sy.

“Dit was nie net Moedersdag nie, maar ook die dag van hul uncle se birthday wat hulle hul mammie verloor het,” voeg sy by.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters