Verlede maand
Vyf cops voor ná jong man se dood
Jason Heyns  ~ Foto Verskaf

VYF polisiebeamptes van Vredenburg is Woensdag in verband met die moord op Jason Heyns gearresteer.

Heyns (25) is na bewering in Oktober in aanhouding deur die polisiemanne aangerand en het later in die Groote Schuur-hospitaal weens sy beserings gesterf. 

Ndileka Cola, woordvoerder van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat, sê die polisie het nie die voorval aangemeld soos die Wet op die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat vereis nie.

Cola sê hulle het eers van die voorval gehoor toe Heyns se familie hulle vandeesmaand oor die voorval ingelig het.

Die verdagtes verskyn Donderdag in die hof.

Heyns se suster, Jessica, het vroeër aan Son vertel dit is onduidelik waarom die polisie hom wou arresteer.

Sy het toe gesê: “Ons hoor maar stories dat dit vir gewapende roof is. Ál wat ons weet, is dat my broer vir die cops weggehardloop het.

“Hulle het hom wel gevang en toe begin slaan, skop en selfs op sy kop getrap.”

Volgens haar het een cop haar broer gewurg voordat hulle hom in die vangwa gegooi en na die Vredenburg-polisiestasie gevat het. Sy vertel haar broer se aanranding deur die gereg het nie daar geëindig nie.

Volgens twee ooggetuies wat saam met die slagoffer by die polisiestasie was, is hy daar verder gemartel.


Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters