3 maande gelede
Vuur vat ma, pa en kinders
bitter ontsteld: Ouma Elma Hendricks het gister swaar gehad om te vertel van die tragedie wat hom daar afgespeel het.  ~ 

“HELP! Here, help! Help my!”

Só het die gille van ’n ma van twee deur die koue oggendure geskeur.

Haar stem het stil geraak. Sy, haar boyfriend en hul twee kindertjies het in hul wendyhuis verkool.

Die ontstellende voorval het Dinsdagoggend omstreeks 02:00 gebeur.

Die hele gemeenskap in Elizabethstraat in Kalkfontein, Kuilsrivier, is diep hartseer oor wat daar gebeur het.

Nikita de Villiers (25) het vergeefs binne-in haar brandende wendyhuis om help gegil.

Nikita en haar boyfriend, Jerome Dampies (39), asook hul twee kinders, Jade (1) en Jeronia de Villiers (9), het almal verkool.

Nikita se mammie, Elma Hendricks, sê sy het vroeg gisteroggend gehoor hoe gil haar dogter om hulp.

Hendricks (44) vertel diep ontsteld: “Sy het geskree: ‘Help my! Here, help! Help my!’ En toe het haar geskreeu net stil geword.”

Trane

“Toe ek uitgaan om te kyk wat gaan aan, was die brand al tot bo by die huis se dak. Ek het verslae omgedraai en eerste gedink om hulle krag te gaan afskakel omdat dit dinge net kan vererger.”

Nikita se jonger suster, Renicia, bars in trane uit terwyl sy sukkel om met Son oor die gebeure te praat.

Sy kan dit eenvoudig nie doen nie. Sy draai toe net om, storm na haar kamer en sluit die deur.

Hendricks se hartseer word hierdeur aangejaag.

Sy sê: “Nikita en Renicia het baie gestry. Maar hulle was na aan mekaar op hul eie unieke manier.”

Hendricks sê sy het Maandag in die namiddag laaste saam met Nikita in die hoofhuis gepraat.

Sy vertel dat Nikita toe sopas teruggekom het nadat sy haar shopping gaan doen het en hulle het gesels oor die moontlikheid dat hulle nie meer na hul werk sal kan terugkeer nie.

Sy het by ’n karwas-plek gewerk. Haar boyfriend, Dampies, was werkloos, want hy het laas jaar in ’n ongeluk seergekry.

Hendricks sê sy gaan hulle almal baie mis.

Volgens haar was haar kleinkind Jade haar sonskyn. Haar alles.

Sy sê dat die begrafnisreëlings nog getref moet word.

’n Woordvoerder van die Stad Kaapstad se brand-en-reddingsdienste, Jermaine Carelse, bevestig die tragedie.

Hy beskryf die brand as verwoestend en sê die saak is aan die polisie se forensiese departement oorhandig vir verdere ondersoek.

Geblus

Carelse sê: “Ondanks die pogings van brandspanne om die brand onder bedwang te bring, kon hulle nie daarin slaag om die man, vrou en hul twee kinders te red nie.”

Volgens hom is die brand 03:55 geblus.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters