16 dae gelede
Vrylating ’n vrotsige idee
Sergio Jonkers  ~ 

DIE idee om gevangenes op vroeë parool te laat uitkom, was van die begin af ’n slegte een.

Só sê Roegshanda Pascoe, ’n aktivis vir menseregte en voorsitter van die Manenberg Safety Forum.

Pascoe het gereageer op die vroeë vrylating van Sergio Jonkers (23), wat ná vier maande op vroeë parool vrygelaat is.

Jonkers het sy verlangse niggie Fransionette Jantjies (23) in 2018 in Buffeljagsrivier vermoor.

Tydens die verhoor is hy op borgtog van R1 000 vrygelaat. Hy’s in Februarie tot ses jaar tronkstraf gevonnis.

Sy medebeskuldigde, Aldred Hendricks, is net aan dwarsboming van die gereg skuldig bevind en vir ’n jaar tronk toe gestuur. Hy het die lyk help dump. Hy is steeds in die tronk.

Volgens die departement van korrektiewe dienste (DKD) is Jonkers een van sowat 19 000 mense wat goedkeuring gekry het om op vroeë parool uit te kom om die tronkbevolking te verminder en so die verspreiding van Covid-19 in die tronke te bekamp.

Pascoe sê: “Ek het geweet só iets gaan gebeur. Daarom was ek van die begin af gekant teen dit. Die DKD het niks gehoor aan ons concerns gegee nie. Hulle was adamant net mense wat petty crimes gepleeg het, sal kwalifiseer. Hoe is moord ’n petty crime­?”

Pascoe sê vier maande is te min vir rehabilitasie en die DKD se verduideliking dat hy weens die lockdown nie by Jantjies se ouers kon uitkom nie, is ’n pap ver­skoning. “Dis onregverdig teenoor die slagoffer se familie om hom elke dag te sien. Hulle moet basies elke dag hul pyn herleef.”

Sy sê die rimpeleffek van die DKD se besluit, wat deur pres. Cyril Ramaphosa goedgekeur is, kan ook op die Kaapse Vlakte gevoel word.

“Kyk hoe bloei dit weer in ons gemeenskappe. Hulle bly met ‘petty crimes’ … Die ouens kom uit die tronk met opdragte oor wat buite gedoen moet word.”

Bloei

Verlede week het die DKD gekap na JP Smith, mayco-lid van veiligheid en sekuriteit vir die Stad Kaapstad, nadat hy ook die toename in gewelddadige voorvalle aan die vroeë parool toegeskryf het.

Smith sê: “Ons paroolstelsel is nie soos dit moet wees nie. Vir die publiek word gesê gewelddadige misdadigers en rapists word nie vrygelaat nie. In gevalle soos dié kom die waarheid uit.”

Hy sê die sad ding is die slagoffer se familie is nie geraadpleeg nie. “Sy parool moet teruggetrek word.”

In ’n verklaring sê Delekile Klaas, streekkommissaris van die DKD: “Dis laerisiko-oortreders wat in die tronk was vir nie-gewelddadige oortredings.”

Gemeenskapsleiers wat uit vrees anoniem wil bly, sê hulle wil weet wat Jonkers so spesiaal maak. “Hoekom sit Hendricks nog as hy nie eens die moord gepleeg het nie? Of gaan dit oor wie jy ken?”

Jonkers het familielede in die polisie en een van sy ma se sibbes is na bewering ’n raadslid in die dorp.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters