2 maande gelede
Vroue veg teen ‘nes van onheil’
GROOT KOPSEER: Bonita Alexander (links) en Leonie Oostenwyk sê die gebou en die misdadigers wat hy lok, laat hulle worry.  ~ Jonathan Lestrade

TWEE buurvroue van Delft is erg bekommerd oor die veiligheid van hul gesin.

Bonita Alexander en Leonie Oostenwyk woon in Sub­urban en agter hulle is ’n murasie wat net die “euwel van misdaad lok”.

Die twee vroue sê hulle kla al baie lank oor die kopseer wat hulle met die verlate gebou by die sokkerveld agter hul huise het.

Hierdie gebou is voorheen gebruik as stoorplek vir die kinders se sokkertoerusting voordat dit gevandaliseer is.

Alexander sê die jongens hang nou daar uit. ’n Klomp duistere dinge gebeur daar wat dit in ’n nes van onheil laat ontaard het.

“Ek kan nie meer in die aande slaap nie en dis nie lekker om só te bly nie,” kla die ma van drie.

Sy worry baie oor haar kinders se veiligheid.

Alexander sê die jongens het onlangs begin om koperdrade daar uit te brand. Wanneer hulle dit doen, maak hulle nie die vuur dood nie.

“Ons kom dan om en maak die vuur dood.”

My grootste kommer is dat hulle dit in die nag doen terwyl ons slaap. Dit het Vrydagnag net so gebeur.”

Varke

Alexander vertel hulle moes die brandweer bel, want die vuur was baie naby aan hul huise.

Sy beweer daar is al varke aangehou “en die rotte het ook al daar gebroei.

“Ons was al by die rent office en raadslid, maar hulle sê ons is ál mense wat kla.”

Die twee vroue voel niemand doen iets nie, want ná talle klagtes sit hulle steeds met dieselfde probleem.

Volgens Alexander het Lester Bell, fasiliteitsbeampte van Delft, al twee jaar gelede belowe hulle gaan iets aan die kwessie doen en die gebou verwyder, maar tot op hede is die gebou nog daar.

HUIS VAN EUWELS: Oostenwyk wys waar daar al gereeld in en om die murasie vuurgemaak is. Foto: Jonathan Lestrade

En hulle voel nou ál meer dat hul veiligheid in gedrang is.

Volgens Alexander kan sy en haar gesin nie eens vir ’n dag uitgaan nie, want die jongens klim agter oor en breek by haar plek in.

Oostenwyk sê weer sy en haar twee dogters en kleinkinders bly alleen daar.

Keelvol

“Ons voel nie veilig as vroumense alleen met die gebou teenaan my huis nie.”

Die twee vroue sê hulle is keelvol en wil net hê die gebou moet gesloop word.

Bell, Delft se fasiliteits­beampte, sê hy is bewus van die probleem.

Volgens Bell was daar voorheen probleme met die sloping van die gebou.

Hy bevestig daar is wel planne in plek om die gebou af te breek en hierdie proses sal in Junie begin.

Bell voeg by die hele fasiliteit gaan daarna oorgedoen word.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters