8 dae gelede
Vroue-studente leef in erge vrees
gevaarlik: Vroue-studente kla oor inbrake wat by dié koshuis plaasvind.Foto: leon bonthuys  ~ 

VROUE-STUDENTE leef in vrees in hulle koshuis ná ’n rits inbrake en doodsdreigemente.

’n Groep jong vroue het vertel van hulle skrikwekkende ervarings in die Edge-koshuis in Distrik Ses.

Die vroue, wat skoon te bang is dat hul name of gesigte gepubliseer word, studeer op die Kaapstadse kampus van die Cape Peninsula University of Technology (CPUT).

Doodmaak

Hulle vertel van mans wat tot snags op die balkonne klim en hulle dreig.

Hulle sê daar is selfs iemand wat hul kamerdeure oopsluit en computers, klere, horlosies en skoene steel.

Een student vertel verlede week het ’n man op die balkon geklim, ’n mes gewys en gesê hy gaan hulle doodmaak.

“Dit kom al van verlede jaar aan. Ons het by die koshuismoeder, sekuriteit en die head of department (HOD) van residences gaan kla, maar niks gebeur nie.

“Baie meisies het al wakker geword, dan staan iemand langs die bed. Ons kamervensters is stukkend en daar is elektriese heinings en veiligheidskameras wat nie werk nie,” vertel die jong vrou vreesbevange.

Die studente vertel hulle het al die slotte verander, maar dit help nie, want iemand kom steeds die kamers binne.

Van die meisies het besluit om eerder uit te trek, maar ander het absoluut nêrens anders om heen te gaan nie.

“Ons leef steeds in vrees. Daar is aanvalle van binne en buite.”

’n Woordvoerder van die CPUT, Lauren Kansley, sê hulle is bewus van die issues van sekuriteit by die koshuis.

“Die HOD van kampusse het reeds verskeie ingrypings gedoen om die probleme op te los.

“Dit sluit in om ’n sekuriteitswag by die probleemarea te plaas. Twee mense, wat in die area ingekom het, is reeds gearresteer.”

Volgens Kansley sal dit nóg veiliger wees sodra die nuwe fence voltooi is.

“Die fence sal rondom die gebied van die District Six-kampus loop en die hele koshuis sal afgesper wees.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters