Verlede maand
Vrou was ook by vermoorde cops
KAAPSE DRAAI: Bheki Cele, polisieminister, het vroeër in die week by die cops se families gaan besoek aflê.  ~ Peter Abrahams

DAAR was ’n vrou saam met die twee polisiebeamptes in die polisie-vên toe hulle doodgeskiet is.

Sers. Mnakwazo Mdoko (46) en konst. Mninawa Breakfast (28) is Sondag in die vroeë oggendure geskiet. Die vrou veg tans in die hospitaal vir haar lewe.

Die twee cops is in Phumlastraat, Bloekombos, doodgeskiet en daarna van hul dienspistole beroof.

Albei beamptes het op die toneel aan hul skietwonde beswyk, maar die vrou het ’n kopskoot oorleef.

Dit is egter nog onduidelik wie die vrou is en hoekom sy in die polisie-vên was.

Sterk

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, sê die verdagte, Mxoleleni Sikhala, staan ook tereg op ’n aanklag van poging tot moord wat verband hou met ’n vrou wat in die kop geskiet is.

Ntabazalila sê: “Sy was ook in die polisievên.

“Sy sterk tans in die hospitaal aan.”

Die Valke se kol. Katlego Mogale het bevestig hulle ondersoek ook ’n saak van poging tot moord.

Intussen het die gemeenskap van Kraai­fontein, tesame met die gemeenskapsgroep Kraailove, Dinsdagaand by die Kraaifontein-polisiestasie ’n gedenkdiens vir Mdoko en Breakfast gehou.

Die twee beamptes was hier gestasioneer en hulle was welbekend in die gemeenskap.

Wilfred Hartnick, ’n gemeenskapsleier, het aan Son gesê tonele van hartseer het hulle by die gedenkdiens afgespeel.

Hy sê dis vir hulle ’n voorreg om onder die polisie te kan dien.

Hartnick sê: “Ons wil net die polisie ondersteun, want hulle is in geweldige rou gedompel.

“Jy kan dit letterlik in hul oë sien. Hulle het in trane uitgebars.

“Ons wil daar wees vir hulle en vir hulle wys ons gee om vir hulle.

“Dit wat hulle deurmaak en wat met hulle gebeur ... ons as gemeenskap voel dieselfde.

“Ons as kerk- en gemeenskapsleiers voel ons doen so min om hulle te beskerm.

“Dit wat ons gisteraand (Dinsdag) gedoen het, is ’n teken dat ons omgee vir hulle en dit wat hulle doen. Dis die mees gevaarlike werk wat hulle doen.

“Hulle is ook maar net mens. ’n Mens met ’n hart, gevoel en pyn.

Kranslegging

“Hulle kry soveel power by die government as ’n polisiebeampte, maar as ’n mens beteken daai power vir jou tog niks.

’n Polisiewoordvoerder, Lirandzu Themba, sê die minister van polisie, Bheki Cele, en die Suid-Afrikaanse Polisiediens gaan ook vanoggend ’n gedenkdiens vir Mdoko en Breakfast hou.

Volgens Themba sal hulle eers 10:00 by die Kraaifontein-polisiestasie ’n kranslegging doen.

Daarna vind ’n gedenkdiens vir die ontslape cops by die Lofdal-kerk in Brackenfell plaas.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters