12 dae gelede
Vrou vermis ná paartie
KOMMER: Zelda Cecil sê die soektogte by hospitale het ook niks opgelewer nie.  ~ Peter Abrahams

’N MA wie se dogter vermis word, vrees dat sy doodgemaak is en dalk iewers in ’n vlak graf lê.

Zelda Cecil van Schaapkraal naby Philippi het die laaste paar dae nog niks geslaap nie en is erg bekommerd oor haar enigste dogter, Alisha Oncker (37).

Oncker word sedert Saterdagaand vermis nadat sy saam met twee vriendinne na ’n street party in Khayelitsha gegaan het.

Dit blyk Oncker is saam met ’n man by die partytjie weg.

Volgens Cecil het haar dogter se vriende haar nooit ingelig dat sy nie saam met hulle huis toe gekom het nie.

Sy vertel: “Die Sondag het ek niks gehoor nie. Ek het gedink dat sy en haar vriende by mekaar oorslaap.

“Die Sondagoggend het een van haar vriende se kinders hul ma by ons kom soek.

“Ek het toe vir hom gesê dat hulle twee saam hier weg is.

Aandag

“Soos die nuwe week begin het, het ek steeds gedink sy is by haar vriende.

“Ek sit met ’n sieklike kind en moes met hom by die hospitaal wees, so ek kon nie so baie aandag gee aan Alisha wat weg is nie.

“Die Woensdagoggend toe sy nog nie huis toe gekom het nie, het ek erg begin worry.

“Ek het haar vriendin gekontak en dis tóé dat sy vir my sê Alisha is met ’n man daar weg.

“Volgens die vriendin het dit gelyk asof die ou haar vashou of sy vir hom en hulle het ook baie vinnig geloop.

“Sy kon nie sien of Alisha deur die persoon weggelok word nie, want hulle het tussen ’n groot crowd geloop.

“Sy het ook twee keer agter haar aan geroep, maar sy kon haar nie hoor nie.”

Volgens Cecil het die vriendin onmiddellik na die Lingelethu-Wes-polisiestasie in Khayelitsha gegaan om haar vriendin as vermis aan te meld.

Maar omdat sy dronk was, het hulle nie ’n saak gemaak nie en liewer voorgestel dat sy in haar kar slaap tot die volgende oggend, vertel sy.

Cecil sê die vriendin is Sondagoggend huis toe sonder om weer na die polisiestasie toe te gaan óf haar van haar kind se verdwyning in te lig.

Volgens haar het sy haar dogter Woensdag by dieselfde polisiestasie as vermis aangemeld.

’n Hartseer Cecil sê: “Die kaptein het my laat weet hulle het haar by die hospitaal gaan soek, maar niemand daar het haar herken nie. Hy het gesê hulle moet nou na die lykhuise gaan en kyk of sy daar is.

“Ek wil nie eens daaraan dink nie.”

Pleit

Cecil het ’n boodskap vir enige iemand wat dalk haar dogter teen haar wil gevange hou.

Al wat sy vra, is dat haar dogter veilig terugbesorg sal word, pleit sy.

’n Polisiewoordvoerder, kol. Andrè Traut, het bevestig die Lingelethu-Wes-polisie ondersoek Oncker se verdwyning.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters