28 dae gelede
Vrou vat vyf koeëls in rug
slagoffers: Candice Wil­liams en Tasliema Galant is in ’n “probleemhuis” geskiet. FOTO VERSKAF  ~ 

’N JONG vrou is dood en haar vriendin het gister nog om haar lewe geveg nadat hulle by ’n dwelmhuis in Bonteheuwel geskiet is.

Volgens familie van Can­dice Williams (35) is sy op die toneel dood nadat sy in die agterkop geskiet is.

Tasliema Galant (31) is vyf keer in haar rug getref.

Die voorval het Saterdag­oggend op die hoek van Bluegumstraat en Kiaatweg plaasgevind.

Williams se ma, Moniba Gideon, het gister gesê hulle weet nog nie presies wat gebeur het nie.

Gideon het vertel: “Al wat ons weet, is dat hulle geslaap het toe daar op hulle geskiet is. Sover ons weet, woon niemand eintlik in daai huis nie. Almal wat wil, kan daar gaan slaap.

“Hulle gebruik drugs daar. Candice was op drugs.”

Volgens Gideon gons dit deur die hele Bonteheuwel dat ’n rooi Toyota Tazz voor die huis opgetrek het.

Twee mans het uitgeklim en by die huis ingegaan en toe het ’n paar skote binne geklap, word vertel.

“Daar is mense wat gesien het wat gebeur het, maar niemand sal praat nie,” het Gideon bygevoeg.

Galant se tante, Jasmine Cornelius, het gesê sy weet ook nie wat tot die voorval gelei het nie.

Sy was by die hospitaal, waar Galant opgeneem is in ’n kritieke toestand.

Cornelius het gesê: “Ons wag dat sy wakker word sodat sy vir ons kan vertel wat gebeur het.”

Angus McKenzie, ’n councillor vir Bonteheuwel, het gesê hy het die polisie al ingelig oor die “probleemhuis”, maar niks is gedoen teen die mense wat daar in- en uitgaan nie.

McKenzie het gesê: “Ek weet nou al ’n ruk lank van die huis, maar ek kon nie eviction-stappe doen nie, want dis ’n private eiendom.

Vermoor

“Die polisie kon egter die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad (Poca) gebruik om iets aan die saak te doen.

“Maar dit het nie gebeur nie en nou is ’n moord gepleeg. Dit bring die getal mense wat vanjaar in Bonteheuwel vermoor is op 38 te staan.”

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n woordvoerder van die polisie, het die voorval bevestig.

Volgens haar is die skieters nog op vrye voete.

Sy vra enige een met inligting om Stop Misdaad by 08600 10111 te bel.

  • ’n Jong man (26) is gister in Dover Court, Lavender Hill, doodgeskiet.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters