8 dae gelede
Vrou van eerstes se stem nou stil

HULDEBLYKE stroom in na die afsterwe van prof. Mary-Ann Plaatjies-Van Huffel, die wêreldraad van kerke se president vir Afrika.

Sowat ‘n maand gelede het sy op sosiale media gedeel dat sy in die hospitaal is en ‘n operasie sou ondergaan. Familielede het dae daarna gedeel dat dit beter gaan, maar sy steeds in ICU is. 

Dr. Llewellyn MacMaster, moderator van die VGK Kaapland, het vroeg Dinsdagmiddag op Facebook geskryf: “Prof. is steeds in die hoësorg-eenheid. Haar toestand is nog kritiek maar stabiel.” 

Twee uur later het hy in ‘n Facebook Live-video die nuus oor Plaatjies van Huffel se dood aangekondig.

Ma, soos sy ook vir baie bekend was, was die eerste vroue-dominee van die Nederduits Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika.

Sy is op Prieska gebore, as een van sewe dogters van ‘n skoolhoof – van talle skole in die Noord-Kaap – en ‘n huisvrou, en het in 1977 aan Bergrivier Sekondêr op Wellington matrikuleer. Na matriek het sy eers ‘n diploma in onderwys aan die Universiteit van die Wes-Kaap voltooi, voor sy in 1986 geregistreer het om dominee te word.

In November 1992 het sy die eerste dominee geword toe sy beroep is deur toe NG Sendingkerk op Robertson. As eerste vroue-dominee was dit egter nie ‘n maklike pad nie. 

Ds. Charles Flaendorp, van die kuratorium op Stellenbosch, skryf in ‘n rubriek in 2014: “Sowat 120 mense, meestal vroue, het die gemeente verlaat omdat hulle probleem gevind het daarmee om deur ‘n vroue-dominee gelei te word.”

Dit het die nuwe vroue-dominee nie ontspoor nie en sy het die gemeente vir 17 jaar gelei en daar word vandag nog met groot lof van haar op die dorp gepraat.

Prof. Mary-Ann Plaatjies van Huffel

Jare later het sy in ‘n radio-onderhoud vertel: “Ek het kort na my aankoms besef dat ek nie net die woord aan die mense sal bedien nie, maar dat ek ook te doen sal kry met stereotipes en konserwatisme in ‘n omgewing van armoede.”

Plaatjies van Huffel is getroud met ds. Dawid van Huffel, ‘n dominee in Scottsdene in Kraaifontein. Dit is ook waar sy in 2011 mede-leraar geword het. ‘n Jaar voor dit is sy as dosent in kerkgeskiedenis en kerkreg aan die Universiteit van Stellenbosch aangestel.

Vir talle in kerkkringe sal sy onthou word as die vrou van eerstes. Behalwe vir eerste vroue-dominee in die Nederduits Gereformeerde Kerk, was daar ook ander eerstes.

Sy was in 2002 die eerste vrou wie aktuaris geword het, van die VGKSA Kaapland, waar sy twee termyne gedien het, voor sy in 2008 as assessor van die VGKSA se algemene sinode gekies is.

Plaatjies van Huffel is in 2012 as VGKSA Moderator verkies, die eerste vrou in die gereformeerde-familie. ‘n Jaar later is sy ook as een van die adjunk-presidente van die wêreldraad van kerke, en dus president vir Afrika van die wêreldraad van kerke verkies. 

Chris Ferguson, algemene-sekretaris van die wêreldgemeenskap van kerke, sê: “Sy was vir die gemeenskap ‘n baie aktiewe en belangrike stem in ons lewe.” 

In November 2016 skryf Plaatjies van Huffel op sosiale media: “Ek het besluit om die lang-verwangte boek oor my reis te skryf. Dit was nie ‘n maklike pad nie. Daar was geen padkaart, geen vroulike mentors nie. “Dit was ek in ‘n male-dominated wêreld met net God aan my kant, en ek moet erken die Here het great dinge vir my gedoen.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters