Verlede maand
Vrou toe al die tyd in lykhuis
Gevind: Die familie voel bitter oor hoe die saak hanteer is. FOTO verskaf  ~ 

MAANDE lank het haar familie bly hoop hulle sal haar weer lewend sien.

Daar is by al wat ’n hospitaal en lykhuis is gesoek na Desiree Swanepoel (44), maar elke rigting wat hulle ingeslaan het, het in ’n doodloopstraat geëindig.

Die laaste keer dat Swanepoel gesien is, was toe sy in Augustus haar huis in Manenberg verlaat het.

Sy was op pad Hanover Park toe, maar het nooit weer die huis gehaal nie.

Ná vyf maande se gesoek is haar lyk uiteindelik Donderdag in die Soutrivier-lykhuis opgespoor.

Dít was nie die uitslag waarop die familie gehoop het nie.

Nadat die polisie hulle in kennis gestel het dat Swanepoel gekry is, moes hulle haar lyk gaan uitken.

Swanepoel is dood rondom die tyd dat sy soek geraak het. Sy is doodgery, bevestig die polisiewoordvoerder kapt. FC van Wyk.

Volgens Van Wyk is Swanepoel op 29 Augustus by die Manenberg-polisiestasie as vermis aangemeld.

Hy sê: “Later is ontdek sy is noodlottig beseer in ’n karongeluk in Turfhall Road in die Philippi-area.

“ ’n Saak van strafbare manslag en roekelose bestuur is by die Philippi-polisiestasie gemaak.

“Familielede het haar Donderdag by die lykhuis uitgeken. Die ondersoek duur voort.”

Volgens Candice van der Rheede, stigter van die Western Cape Missing Persons Unit, het hulle die polisie gehelp soek.

Kwaad

Van der Rheede het aan Son gesê sy vind dit baie vreemd dat Swanepoel se lyk nóú eers gevind is.

Volgens haar het hulle in die tyd dat Swanepoel vermis geraak het wel by die lykhuis navraag gedoen, maar dit het niks opgelewer nie.

Van der Rheede vaar uit: “Ek is baie kwaad! Ons het ’n probleem met hulle.

“Ons het die flyer aan hulle uitgestuur, maar hulle het nie eens vir die lyk gesoek nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters