15 dae gelede
Vrou sterf in kliniek ná mesaanval
Jeanne Bailey (29)  ~ Foto Verskaf

’N VROU is vermoor toe sy en haar vriendin by ander vriende in Dunoon gaan kuier het.

Jeanne Bailey (29), oorspronklik van Atlantis, het laas Vrydag in die Dunoon­kliniek afgesterf nadat­ sy glo met ’n mes gesteek is.

Volgens ’n familielid wat anoniem wil bly, het Bailey die laaste tyd omtrent heen en weer getrek en nie meer in Atlantis gewoon nie.

Bailey se niggie vertel: “Ons verstaan dat sy die Vrydagaand net ná 18:00 doodgesteek is.

“Ons ander niggie sê hulle het eers Saterdag die nuus ontvang. Haar ma is ook ’n paar jaar gelede in hul huis vermoor.”

Bailey se niggie het aan Son gesê hulle het nie gedink so iets sou met haar gebeur nie.

Ondersoek

Kapt. FC van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het bevestig dat ’n 29-jarige vrou Vrydagaand by die Dunoon-kliniek in Potsdamweg by Killarney Gardens in Milnerton gesterf het.

Van Wyk sê: “ ’n Moordsaak word ondersoek en nog geen arrestasies is gedoen nie.

“Die omstandighede rondom die moord word nog ondersoek. Mense met inligting word gevra om Crime Stop by 08600 10111 te skakel.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters