DIE polisie ondersoek 'n voorval waar 'n vrou se lyk Sondagoggend naby die Seepunt-swembad gevind is.
Die lyk is kort voor 11:00 deur Stad Kaapstad se lewensredders gevind.
Zahid Badroodien, mayco-lid vir gemeenskapsdienste en gesondheid, sê geen besonderhede rondom die voorval is in dié stadium beskikbaar nie.
Volgens Badroodien is die identiteit van die oorledene bekend, maar haar familie moet nog in kennis gestel word.
Die ontdekking kom nadat die minister van polisie, Bheki Cele, onlangs Wes-Kaapse strande besoek het om seker te maak daar is geen besoekers tydens vlak-3 van die inperking nie.